‘n Boer se muil het in ‘n put geval. Aangesien hy geen manier gehad het om hom daar uit te kry nie, het hy besluit om hom daar te begrawe. Hy het ‘n trok vol grond gekry en dit bo-op die muil gegooi. In plaas daarvan om onder die grond te lê, het die muil begin skop tot hy bo gekom het. Vrag na vrag het die muil hiermee aangehou tot die grond uiteindelik die bokant van die put bereik het. Toe het die muil eenvoudig weggestap – baie vuiler, maar ook wyser. Dit wat veronderstel was om hom te begrawe, het hom bo laat uitkom.
Op pad na Rome, was Paulus se skip op ‘n eiland gestrand. Terwyl hy besig was om vuurmaakhout bymekaar te maak, het ‘n slang aan sy arm vasgebyt. Wat het hy gedoen? Die Bybel sê hy het hom net “afgeskud”. Daar is ‘n belangrike les in albei stories. Jy kan bly tob oor die verlede, of jy kan dit afskud en aanbeweeg na die toekoms wat God vir jou beplan.
Paulus, ‘n man met ‘n verlede, skryf: “Ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê.” (Filippense 3:13 NLV). Paulus het sy verlede afgeskud en aangehou vorentoe beweeg. Jy sê: “Maar ek het so ‘n groot mislukking gemaak.” God sê: “Ek dink nie weer daaraan nie…” (Jesaja 43:25 NLV). Somtyds is ‘n genesingsproses nodig voor ‘n mens kan vergewe, maar voor jy nie die besluit maak om jouself en ander te vergewe en “dit af te skud” nie, kan die proses nie begin nie.
Bron : Radiokansel