Die meeste van ons onthou Louis Koen as die rugbyspeler met die streeptrui aan wat al die balle oor die pale geskop het of dalk as die een wat 570 punte aangeteken het in sy loopbaan as provinsiale – en klub rugbyspeler. Maar min van ons ken sy hart vir die Here en weet van die voorbeeld wat sy ouers aan hom gestel het as klein seuntjie. JOY! het bietjie gaan uitvind waarmee Louis tans besig is.
Wanneer het jy jou hart volkome aan die Here gegee en hoe het dit jou rugby en die besluite wat jy verder in jou lewe geneem het beïnvloed?
Ek was baie bevoorreg om in ‘n huis groot te word waar my ma en pa verstaan het en gehoorsaam was aan God die Vader se opdrag aan elke ouer: maak jou seun groot volgens My seun, Jesus, se voorbeeld en help hom om ‘n Godsman te wees. My pa het my gewys wat ‘n Godsman is. Ek het in ons huis gesien hoe lief my ouers mekaar het. Ons is grootgemaak in die Woord en het na aan die Here gelewe. Ek het ‘n goeie pakslae gekry as ek stout was en het die waardes en norme wat my ouers in ons huis uitgeleef het, ter harte geneem. Ek het Jesus geken, ek het van Hom geleer en ek het Hom in ons huis ervaar. My pa en ma het ook baie gegee en ek het besef dat dit nooit net oor jouself gaan nie. Ek was nog bevoorreg om altyd liefde te ontvang. Ek was baie klein toe ek my hart vir die Here gegee het. Vir my was dit nie ‘n groot bekering en radikale ommeswaai nie, maar eerder ‘n reis van kleintyd af om God te ontdek.
“Die droom in my het wakker geword„

Wanneer was hy gekies vir WP?
Ek is die eerste keer vir die WP-seniorspan gekies toe ek 20 jaar oud was en dit was ‘n nederige ervaring om te weet dat niks vir my God onmoontlik is nie. Dit is ‘n getuienis wat baie in my lewe herhaal is, want tydens baie terugslae en moeilike tye wou God elke keer net sien dat ek bereid was om ‘n prys te betaal voordat Hy kon oorneem en die onmoontlike laat gebeur. Ek kan onomwonde getuig dat nét God se bonatuurlike ingryping alleen verantwoordelik was vir elke span waarvoor ek gekies is.
Hoe het jy betrokke geraak by Living Ball?
Rugby het my die geleentheid gegee om baie te reis en by baie skole en kerke te gaan getuig oor God se wonderlike liefde. Toe ek in 2005 klaarmaak met rugby, het ek die voorreg gekry om by ‘n sportbediening te begin waar ons die Evangelie verkondig deur sportballe. Manie du Toit (SWD-rugbyspeler) het ‘n visie van die Here gekry om die projek te begin en hy het my genooi om betrokke te raak. ‘Living Ball is ‘n projek waar ons die evangelie verkondig deur die medium van sport. Die Evangelie is op die balle aangebring in die vorm van kleure en Bybelverse en ons gaan uit in die gemeenskap en gaan speel met kinders om hulle weer geïnteresseerd te kry in sport. Baie kinders het geen aktiwiteite na skool nie en beland op straat. Ons hart is om met hierdie kinders ‘n verhouding te bou en ook die Evangelie met hulle te deel. Ons werk reg oor Suid-Afrika en in Afrika-lande. Dit is wonderlik om betrokke te kan wees by iets wat ewigheidswaarde het en om te sien hoe kinders se lewens verander.
Wat doen jy op hierdie oomblik?
Ek is bevoorreg om voltyds eggenoot te wees vir my ongelooflike vrou, Lelani en pa te wees vir my 4-jarige seuntjie, Liam. Ons verwag ons tweede seuntjie in September en sy naam gaan ook Louis wees. Om ‘n broodjie op die tafel te kry, is ek ‘n rugbyafrigter by Boland-rugbyunie en is ek die medebestuurder van ‘n rugbyakademie op Wellington. Louis is beslis iemand wat baie omgee vir sy medemens en JOY! wil Louis en sy vrou baie geluk met hul kleinding toewens! Mag hy ook die Here loof en dien – soos sy pa.
Deur Charney Kirsten – www.joymag.co.za

