Image
ImageMiskien leef ons as moderne gelowiges net so hooploos as die res van moederaarde se bewoners omdat ons kop presies net soos hulle s’n werk. Dieselfde dinge maak ons bly en swartgallig, of ons nou gelowig is of nie. Ons het dalk ons hart vir die Here in die kerk gegee, maar ongelukkig het ons ons kop vir onsself gehou om mee te maak wat ons wil. Sulke driekwartlyf-bekerings lei daartoe dat ons nog steeds soos vroeër dink, ten spyte van ‘n nuwe hart. Ou koppe, propvol geraas, bo-op nuwe harte, vol hemelse musiek … Dit werk eenvoudig nie. Boonop is ons ook nog slagoffers van daardie rug-vir-die-verlede-draai-sindroom.
Wat? Vra jy dalk. Kom ek verduidelik.
Die meeste moderne Westerlinge leef met hulle rug vir die verlede en met hulle gesig na die toekoms gerig. Al wat eintlik saak maak, is die dag van môre. As die ekonomie môre verbeter, het ons vandag hoop. Maar as môre donker lyk, tref die donkerwolke ons sommer vandag al. Ons prentjie van môre bepaal ons manier van leef vandag.
Wat dan van die verlede? Vir moderne mense is dit klaar en verby … dis gister se ou nuus. Die meeste van ons staan met ons rug na die verlede gedraai en staar na die groener weivelde net hier anderkant die horison. Vandag is eintlik net ‘n vlietende punt op pad na môre. Gister is opgeleef, vandag is half sinneloos, maar miskien is môre ‘n stukkie beter. Of dalk slegter en dan waai al ons hoop meteens by die agterdeur uit.
Baie hooplose kerkmense is slagoffers van hierdie rug-vir-die-verlede-sindroom. Daarom hoor hulle nooit God se stem nie. Nee, hulle hoor net al vandag se geraas.
Die oplossig vir hierdie krisis is ‘n permanente pelgrimstog terug na God se stem toe. Pelgrims hou God se groot reddingsdade van gister en eergister gedurig in die oog. Hulle luister altyd na dit wat God in die Bybel sê. Want dit is net daar waar God se outentieke stem tussen al vandag se geraas deur te hoor is.
~Stephan Joubert (Uit: God se Roepstem)
Scroll to Top