‘n Geestelike oorlog




Untitled Document

 ImageIn 1917 het Akaba oninneembaar gelyk; enorme kanonne het die hawe beskerm en aan alle kante agter die vesting was daar die barre, dorre, onherbergsame woestyn. Aan die ooste het die dodelike ‘aambeeld van die son’ (woestyn) gelê, die duine langs die huidige grens tussen Saoedi-Arabië en Jordanië. Die Turke het vas geglo dat Akaba nie ingeval kon word nie. Hulle was egter verkeerd. Die legendariese ‘Lawrence van Arabië’ het ‘n berede mag oor die ‘aambeeld van die son’ gelei. Hulle het die samewerking van plaaslike mense verkry en op 6 Julie 1917 Akaba vanaf die noordekant, die ‘blinde’ kant, ingeval.

‘n Hoogtepunt van die film Lawrence of Arabia is ‘n rollende skoot van die galoppende Arabiere, hulle perde en kamele, met Lawrence aan die spits, wat by die nuttelose kanonne verbyjaag. Hoekom? Die kanonne het die verkeerde kant (die see) beskerm! Akaba is ingeneem, die Turkse mag oor Palestina is verbreek, deur ‘n Britse mandaat vervang, en uiteindelik het Israel die beheer van hulle land verkry.

 

Die Turke het misluk omdat hulle drie foute begaan het: hulle het nie hulle vyand geken nie; hulle het nie geweet wat hulle swakste punte was nie; hulle het nie die regte wapens gehad nie. ‘n Les is hierin opgesluit: 1) Ken jou vyand. Satan sal jou probeer oortuig dat hy eintlik nie bestaan nie en dat ‘jy’ die probleem is. Op dié manier beveg jy vlees met die krag van die vlees en sal jy elke keer verloor. 2) Ken jou swakhede. Wees eerlik. Verskans jou deeglik voor die geveg aanbreek. 3) Ken jou wapens. Gewapen met God se Woord, beskermende gebed en Christelike broederskap is jy meer as mans genoeg vir die vyand.

 

Bron : Radiokansel


Scroll to Top