‘n Dag op ‘n slag

ImageMax Lucado sê: “Bekommernis doen dieselfde aan vreugde as wat ‘n stofsuier aan stof doen. Jy kan netsowel jou hart aan die vreugdesuier koppel en dit aanskakel.” Jesus het gesê: “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis.” As dit lyk asof alles om ons inmekaartuimel, herinner Paulus ons dat: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet,” (Rom. 8:28, NAV). Wanneer dit lyk asof die hele wêreld besig is om gek te word, moenie vergeet: God “is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand,” (Kol. 1:17, OAV). Wanneer bekommernis in jou oor fluister: “God weet nie werklik wat jy nodig het nie”, onthou dat God belowe het Hy sal “in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus,” (Filip. 4:19, NAV).
Jesus het ons geleer om te bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Jy gaan nie die wysheid en hulpmiddele kry om môre se probleme mee op te los voordat jy dit nodig kry nie. As ons “met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, [sal] ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word,” (Heb. 4:16, NAV).
Charles Spurgeon het meer as ‘n eeu gelede gesê: “Genoeg vir vandag is al wat ons kan geniet. Ons kan nie meer as vandag se kos en klere eet, drink en aantrek nie. ‘n Surplus gee aan ons ‘n behoefte om dit êrens te bêre en die angstigheid dat iemand dit dalk sal steel. Een wandelstaf help ‘n reisiger, maar ‘n bondel stawwe is ‘n swaar las op sy skouers. Genoeg is ‘n feesmaal en meer as wat ‘n vraat kan geniet. Genoeg is al wat ons moet verwag. As ons meer begeer, is ons ondankbaar. Wanneer ons Vader nie aan jou meer gee nie, wees tevrede met dit wat Hy daagliks aan jou gee.”
© Radio Kansel 2008 (www.radiokansel.co.za)
Scroll to Top