Lesse uit Listra

RKLogo_Reg

RKLogo_RegDie Bybel sê: “In Listra was daar ‘n man. hy kon nooit loop nie. hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word. en gesê: “Op jou voete!” Die man het opgespring en begin rondstap” (Hand 14:8 NLV). Dit is buitengewoon. Sonder maande se terapie het hierdie man wat nooit kon loop nie, skielik opgestaan en rondgeloop. Dit is soos om ‘n sangkompetisie te wen sonder ‘n enkele stemles. Of om jou skilderye in die Louvre uit te stal sonder ‘n enkele kunsklas. God maak die skade van jou verlede ongedaan en seën jou met sukses. Jy “stap daarin” deur Sy krag en genade. Soms is dit hoe God werk.

Verder lees ons: “Toe die skare sien wat Paulus gedoen het, roep hulle uit. ‘Die gode het met mensliggame na ons toe afgekom!.’ Toe die apostels daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die skare ingespring en geskreeu: ‘Mense, waarom doen julle dit? Ons is mense, net soos julle'” (Hand 14:11-15 NLV). Hier gaan ons al weer! Ons wil alweer gode uit mense maak. ‘n Onbekende tref die hoë noot, kry ‘n kontrak by ‘n musiekvervaardiger en word oornag ‘n ster – en ons maak van hom ‘n rolmodel. Dit gebeur selfs met predikante: hulle sukkel, word deur God geseën, bou ‘n merkwaardige bediening op en skielik kan mens nie meer met hulle praat sonder ‘n afspraak nie. Paulus en Barnabas het nie ‘n nuwe klerekas of publisiteitsagent aangeskaf om by hulle nuwe beeld te pas nie. Nee, hulle het “hulle klere geskeur” en uitgeroep “Ons is mense, net soos julle”. Word wys! Die skare wat Paulus gister geloof het, stenig hom vandag.

Die les: wees nederig, wees lief vir mense, maar vertrou net op God.

© 2009 Radiokansel.co.za

Scroll to Top