Leer uit ondervinding (2)

note2004

note2004In teenstelling met wat jy miskien gehoor het, is ondervinding nie die beste leermeester nie – maar geëvalueerde ondervinding is! Elkeen het ondervinding; wat belangrik is, is wat jy daarmee doen. Ons lewens begin as leë notaboeke. Ons het elke dag die kans om nuwe ondervindings daar in te skryf. Met elke bladsy kry ons meer ondervinding. Ons notaboek behoort vol waarnemings te word soos ons deur die lewe vorder. Maar nie almal van ons benut hierdie notaboek ten beste nie. Sommige maak selde die notaboek oop om iets neer te skryf. Ander skryf bladsye vol, maar het nooit tyd om dit te lees of te oordink en sodoende meer wysheid te kry nie.

Sommige kry dit egter reg om nie alleen ‘n rekord van die lewe te maak nie, maar dit ook te oordink. Nabetragting word insig, sodat ons nie net die ondervinding beleef nie, maar ook daaruit leer. Ons ken almal mense met baie kennis, maar min begrip. Hulle het die vermoë, maar besef nie die betekenis van enigiets nie. Wat is die probleem? Hulle lewensondervinding bevat geen nabetragting en waardebepaling nie. Wanneer 25 jaar verloop het, het hulle nie 25 jaar se ondervinding nie, slegs een jaar se ondervinding 25 keer oor! Om ‘n wenner te wees, moet jou ondervinding in wysheid omgeskakel word. Verminder spoed! Wysheid word met verloop van tyd opgedoen, nie oornag nie. Boor diep; die skat is wel daar, maar jy moet delf om dit te vind. Laastens, sak neer, gaan op jou knieë en praat met God, want ‘dis tog die Here wat wysheid gee .’ (Spreuke 2:6 NLV).

Bron : Radiokansel (Inhoud aangepas)

Scroll to Top