Leer daaruit en gaan aan met jou lewe

Op ‘n dag het die sewe jaar oue Walter gesien hoe ‘n uil op ‘n tak sit en slaap. Hy het gedink dat dit ‘n oulike troeteldier sal wees, nader gesluip en die uil aan die been gegryp. Die uil het gespartel en gefladder, sy vreesbevange oë het wyd oopgerek. Die seun het dit op die grond neergegooi en doodgetrap. Gewalg deur dit wat hy pas gedoen het, het hy gevlug. Later het hy teruggegaan om die uil te begrawe. Hy het bitterlik en vol berou gehuil, terwyl hy die uil met grond toegegooi het. Die uil se dood het aangehou om by hom te spook en hy het niemand daarvan vertel nie. Jare later het dit skielik ‘n nuwe waardering vir die lewe in hom wakker gemaak. Al die beloftes op aarde kon nie die uil weer lewendig maak nie, maar deur hierdie een uil se dood, het ‘n nuwe wêreld vol diere tot stand gekom. Die seun is reeds lankal oorlede, maar sy wêreld leef nog voort deur die tekeninge van Walter Elias … beter bekend as Walt Disney.

Charles Dickens het gesê: “Fokus eerder op jou seëninge (daarvan het elke mens baie) as op die slegte gebeure in jou verlede (daarvan het elke mens maar net ‘n paar gehad). Leer uit jou verlede en “strek jou dan uit na wat voor jou is”. Paul Harvey skryf: “Die verhoudings wat ons wat ons vorm, koester of beëindig, leer vir ons belangrike lewenslesse. Soms staan ons op na ‘n pynlike ervaring met dieper insigte oor wie ons is en wat ons wil hê. Ons foute? Noodsaaklik! Ons frustrasies, mislukkings, sukkelende pogings om te groei en vooruit te beweeg? Ook noodsaaklik! Met elke treë wat ons gee, leer ons iets. Ons moes deur alles gaan om te kom waar ons vandag is. Is jou verlede ‘n fout? Nee. Jou groot fout is dat jy die fout maak om te dink dat dit die waarheid is.

“God kan jou verlede vat en dit “in ‘n nuwe raam sit” in die lig van die genade en guns wat jou gedra het tot waar jy vandag is. Leer daaruit en gaan aan met jou lewe!

(c) Radiokansel.co.za

Scroll to Top