Laat jou lewensmaat weet

Happy Married 3001

Happy Married 3001Ons glimlag oor die man in die strokiesprent wat vir sy vrou sê, ‘Daar doen jy dit al weer, jy haal ons huweliksbeloftes buite verband aan!’

Walter Lippmann het gesê, ‘Die idee dat twee mense vir vyf-en-twintig jaar of langer kan saamleef sonder ‘n ernstige meningsverskil, dui op ‘n gebrek aan geesdrif wat mens slegs in skape kan bewonder.’

Die huwelik is deur God ingestel, maar as jy na iemand soek wat alles vir jou kan wees, gaan jy teleurgesteld word! Wanneer jy met iemand trou, neem jy sy of haar sterk- sowel as swakpunte aan – die persoon as hele pakket. Moenie volmaaktheid verwag nie, dis veel meer as waartoe jy of die ander persoon in staat is.

Wanneer jy in die moeilikheid is, behoort jy egter op jou lewensmaat te kan staatmaak. ‘n Huwelik beteken dat jy iemand het om teen te nestel wanneer die lewe koud word. Iemand wat net so bekommerd is wanneer die kinders siek is. Iemand wat oor jou besorg is wanneer jy self siek is. Iemand wat jou troos wanneer jy ‘n geliefde aan die dood afstaan. Getroud wees beteken dat jy aan jou lewensmaat kan sê, ‘Wanneer ek moet gaan, is dit jou gesig wat ek totsiens wil soen, jou hand waaraan ek wil vashou wanneer ek die ewigheid ingaan. Ek wil in jou oë sien dat ek waarde het – nie oor my voorkoms, my besittings, of my talente nie. Nee, ek wil in iemand se oë kyk wat my liefhet en ek wil sien dat ek vir jou belangrik is!’

As jy dalk die afgelope tyd te besig was, of net vergeetagtig, sê dalk weereens vir jou lewensmaat hoeveel hy of sy vir jou beteken.

Bron : Radiokansel

Scroll to Top