
God kán jóú in die uiterste omstandighede bemoedig. Hy red jou uit dilemmas; al het jy gedink daar is géén uitkoms nie. Hy gee aan jou vrede, selfs te midde van trauma. Jy sal lewe, liefhê, en verlies ervaar. Deur sekere dinge te verloor, sal jy eintlik dié wat jy behou het méér waardeer. Dit is immers die bitter van verloor wat oorwinning so soet laat smaak. Hoe kan jy jou oorwinning vier, as jy nooit ‘n nederlaag gely het nie? Jy lewe elke dag sonder om te weet wat môre bring, maar wetende dat God oor al jou môres beskik. Jou môres is nie in jou werkgewer, aandelemakelaar, lewensmaat of enigiemand anders se hande nie. Ook nie eens in jóú hande om te manipuleer en beheer nie. Nee, al jou môres is in God se hande!
Maak moeite met jou verhouding met God, want jy het Hom nodig. Hy sal jou altyd ondersteun; selfs wanneer alles en almal nie meer daar is nie. Hy is saam met jou in die donker plekke. Sy belofte aan jou is, ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde.’ (Psalm 30:6 NLV). Hoe lánk die nag ook al is, die môre breek altyd aan en daarmee saam Sy vreugde. Dink aan al jou donkerste nagte – jy het altyd die oggend sien kom. Sý genade was altyd vir jou genoeg; het jou beskerm, gedra en bemoedig. Tye en seisoene mag verander, maar God nié. Hy is altyd die Vader ‘…wat in elke opsig bemoedig…’
Hy behoed en bewaar jou vandag!
Bron Radiokanel (Inhoud aangepas)



