
Daar is tydlose waarhede in die verhaal van ‘n nuwe rondgaande verkoopsman wat sy eerste verslag aan hoofkantoor gestuur het. Die arme man kon glad nie ordentlik skryf of spel nie en die kantoorpersoneel was stomgeslaan. Hy het só gerapporteer, ‘Ek verkoep klomp goed an hirie mense wat koep nooit by onsie. Nou ek gan by Sjikago (Chicago).’ Voordat die verkoopsbestuurder hom nog in die pad kon steek, het die tweede verslag daar aangekom. ‘Ek kom hie by Sjikago en ek verkoep oorrie miljoen.’ Die verkoopsbestuurder was natuurlik tussen twee vure en het besluit om die probleem aan die maatskappy-president oor te laat. Die verkoopsafdeling was verstom om die volgende oggend ‘n nota van die president saam met die twee verslae op die kennisgewingbord te sien.
Daar het gestaan, ‘Ons vatte baja tyd om te spel en te min om te verkoep. Watsh darie verkoepe. Ek wille almal moete lees hirie twie briewe van Gooch, hy is oppie pad, hy doen die goeie job vir ons. Almal moete nou maak soos Gooch.’
Grade en titels is goed en wel, maar, bewapen met intuïsie en inisiatief, versterk deur God se hulp, ís jy gekwalifiseerd!
Bron : Radiokansel




