Mense verwag lig en warmte in die kerk! Hulle wil weet dat ander omgee. Goeie preke en musiek mag hulle dalk nadertrek, maar koesterende verhoudinge sal hulle laat terugkom. Jy kan eensaam voel midde in ‘n skare mense, selfs wanneer liefde verkondig en elke diens ‘n groet-jou-buurman oomblik het. As ons net tien persent van die mense wat slegs een maal na ons kerke toe kom, kon behou het, sou ons gemeentes voortdurend gegroei het. Die Bybel leer wel dat die mens wat vriende wil hê self vriendelik moet wees, maar mense bring hulle wonde van die verlede, hulle probleme en hulle onuitgesproke bekommernisse oor die toekoms met hulle saam. Hulle wil die versekering hê dat hulle aanvaar sal word al pas hulle nie heeltemal in nie, of verander hulle nie so gou as verwag word nie. As die predikant meer begaan is oor hoeveel mense die diens bygewoon het as oor die nood van sy mense, tel sy beeld dalk vir hom meer as enigiets anders.
Jesus het aan Sy dissipels gesê, ‘…Ek het julle vriende genoem…’ (Johannes 15:15 NLV). Baie mense is skaam, wantrouig en menssku. Ons opdrag is om ‘vriende’ van hulle te maak, nie net stoelsitters en kollektebydraers nie. Die Skrif sê, ‘Help ander gelowiges wat swaarkry…’ (Galasiërs 6:2 NLV), want ‘n gedeelde las is ‘n ligter las. Baie mense wat die kerk besoek, is nie op soek na diepgaande antwoorde nie, hulle wil net voel dat ander vir hulle omgee. Wanneer hulle aanvaar word, stel hulle hulleself egter oop vir God se liefde en dan gebeur wonderwerke!
Bron : Radiokansel