God wil ons iets nuuts leer

Ek het al ‘n paar keer gesê dat ek oortuig is die Here leer ons ‘n ander manier van ekklesia/kerk-wees en dat Hy ons prentjies daaroor wil verander.

Die manier hoe die Here ons manier van dink hieroor verander is deur ons met “nuwe wyn” te bedien. Met ander woorde, deur die werking van Sy Gees…

  • Laat Hy ons ou Bybelse waarhede raaksien en opnuut ontdek
  • Begin Hy ons gedagtes en prentjies daaroor en daarrondom verander soos wat ons tyd spandeer om daaroor na te dink en te mediteer
  • Word dit wat Hy daaroor sê vir ons skielik verrassend relevant en betekenisvol en weet ons dat ons nooit weer soos voorheen oor hierdie dinge sou kon dink of dinge op dieselfde manier as voorheen kan aanhou doen nie.

Verstaan mooi, dit gaan nie wees asof ons mekaar ‘n nuwe resep of metode gaan wys of leer nie.

Daar is nêrens op aarde waarheen ons kan gaan om te gaan kyk hoe dit nou eintlik gedoen moet word nie.

God gaan ons self kom leer. Van vooraf.

Wat ek wel besef is dat ons tyd nodig het by mekaar om dit te leer en te ervaar.

Daarom kan ons nie meer tevrede wees deur net Sondae “kerk toe te gaan” soos in die verlede nie.

Daarom weet ek dit was nie vir spek en boontjies dat die vroeg-Christelike gemeentes ekklesia-wees beleef en geleer het toe hulle begin het om van huis tot huis te beweeg, saam te eet en saam te kuier met Jesus in hulle midde nie.

Daar het hulle mekaar leer liefkry. Daar het hulle leer deel. Daar het hulle mekaar leer vertrou. Daar het hulle mekaar bedien met die gawes van die Gees. Daar het hulle beleef hoe Jesus hulle self gelei het deur Sy stem.

Daar het Sy Woord vir hulle vars en nuut geword. Daar het die nuwe wyn van Sy Woord hulle verander en hulle geleer nuwe wyn hoort in nuwe wynsakke.

Deur die gawe van lering, die gawe van bemoediging, die gawe van profesie, die gawe van

onderskeiding van geeste en die onderskeiding van wat waarheid en wat leuen is, deur die gawes van genesing, deur die gawes van wonders en kragte, deur die gawes van leierskap en die gawe van bediening van mekaar se nood en behoeftes het gelowige volgelinge van Jesus God as “tussen hulle teenwoordig” belewe.

Daarom is dit so nodig dat ons moet seker maak dat elkeen in die ekklesia of familie van Jesus werklik ‘n persoonlike ontmoeting gehad het met ‘n lewende Jesus, waar hulle die boodskap van die evangelie verstaan het en ‘n kans gehad het om te kies of hulle dit werklik glo.

Daarom is dit so noodsaaklik dat hulle ook die ander dele van ‘n normale Bybelse geestelike geboorte moet beleef deur Bybels gedoop te word in water en gedoop te word deur die Gees.

Daarom is dit so noodsaaklik om hulle posisie van geregtigheid in Jesus te verstaan, maar ook te verstaan dat hulle as nuwe burgers van Sy koninkryk Hom nou moet gehoorsaam as die nuwe Koning in hulle lewens.

Daarom is dit nodig dat ons mekaar gedurig moet aanmoedig om die beheer in ons lewens aan die Gees van God in ons oor te gee. Sodat Hy ons gedrag en woorde ten volle kan beheer.

Dan kan ons die vrug van die Gees in mekaar se lewens verwag en ervaar, naamlik “… liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” (Gal. 5:22,23)

Anders gaan ons net heeltyd moet keer vir ons paaltjies as ons by mekaar is, want mense sal mekaar net wil byt en stukkend hap!

God het soveel meer in gedagte as dit! Ekklesia/kerk-wees kan soveel meer wees as dit waaraan ons tot nou toe gewoond geraak het!

Mag God self vir ons Sy plan en bloudruk leer! En mag ons oop wees om deur Hom daarvan oortuig te word!

Christo Nel (Nog ‘n slukkie Nuwe Wyn)

Scroll to Top