God gee nooit op nie

In ‘n strokiesprent in die boekie, “The funny shape of faith”, staan ‘n pa by sy moedelose kind en sê: “God het op die sewende dag gerus. Hy het nie sy hande in die lug opgegooi en gesê: ‘Ek gee op!’ nie.”

 

Mense kan vurig aan die stry raak oor die Sabbat en die Sondag en oor wat rus is en wat nie. Soos met baie ander dinge, doen party van ons behoorlik breingimnastiek om ons eie sieninge oor dinge teruggelees te kry in die Bybel. Maar so ‘n raakvat loop ‘n mens nie aldag in ‘n populêr-Christelike boek raak nie.

Die priesters aan wie ons Genesis se eerste skeppingsvertelling (Genesis 1:1-2:4a) te danke het, het daarmee ‘n aantal belangrike beginsels en waardes oorgedra. Die moedelose Jode, wat uit die ballingskap na hulle land teruggekeer het en dit weer moes opbou, het dít nie net nodig gehad nie, maar ook ter harte geneem. Hulle kon glo dat húlle God nie net die hemel en die aarde gemaak het nie, maar ook vir hulle. Net soos wat God alles begin het, het Hy nou weer – na die vernedering deur hulle vyande – van voor af met sý mense begin. Hulle het geglo God gee nooit op nie. Nie met die wêreld nie en ook nie met hulle nie. In die liturgie van hulle godsdienstige byeenkomste is hulle elke sewende dag hieraan herinner en het hulle dit op ‘n spesiale manier gevier (Eksodus 20:8-11).

Om in God tot rus te kom was egter nog nooit net vir die Sabbatdag (Vrydagaand rondom sononder tot Saterdagaand dieselfde tyd) bedoel nie. Die oproepe in die Bybel om in God tot rus te kom weerklink nou nog saam met elke tik van ons horlosies se wysers (veral Matteus 11:28-30; Psalms). Die belydenis van Dawid, dat hy net by God rus vind, het hom op God laat vertrou (Psalm 62:2, 6). Is dit nie moontlik waar dat net mense wat God vertrou kan rus nie? Nie almal is dapper genoeg om nié sewe dae per week vier-en-twintig ure per dag te werk nie. Ons kan tog maar een dag per week uit die roetine breek omdat ons vertrou dat God sorg en voorsien? Is dit nie dalk tyd dat ons onsself vermaan om tot rus te kom omdat God vir ons goed is nie (Psalm 116:7)?

Wanneer jy voldoende rus, kan jy ook – soos wat Stephen Covey sê – jou saag se lem skerp hou en sal jy nie onkant gevang word as jy die boontjieranke, waarteen die reuse wat jou bedreig afklim, moet afsaag nie. Mag jy by God rus vind soos wat ‘n babatjie wat tevrede in sy ma se arms lê (Psalm 131). Mag jy daarin slaag om nie meer van jouself te dink as wat jy van ander mense dink nie. En mag jy vrede maak daarmee dat daar dinge is wat vir jou te groot en bo jou vermoë is (Psalm 131:1). Jy kán ‘n beduidende verskil maak wanneer jy wag op die Here en in God rus vind. Jy hoef nooit op te gee óf uit te brand nie.

Gerhard Bothma

Scroll to Top