Vergewe ander, want jy is alreeds vergewe!

ImageTerwyl hy terugdink aan sy tyd as ‘n krygsgevangene, het Ernest Gordon vertel hoe ‘n wag een aand na werk agtergekom het dat een van die grawe weg was. Vas oortuig dat een van die gevangenes dit gesteel het, het hy gebulder dat die skuldige moes uitkom. Toe het hy gedreig dat hy hulle een vir een sou skiet totdat iemand na vore sou tree. Skielik het ‘n Skotse soldaat uit die gelid getree, op aandag gestaan en gesê: “Dit was ek.” Die wag het hom net daar doodgeslaan. Nadat sy woede ontlont het, het die ander gevangenes hulle vriend se liggaam, saam met hulle gereedskap, opgetel en teruggestap kamp toe. Die grawe is weer getel en die wag was verkeerd. Nie een was weg nie!

Watter tipe persoon sal die blaam op homself neem vir iets wat hy nie gedoen het nie? Christus! “Vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was,” (Rom. 5:7-8, NAV). Dink daaroor: “Die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom,” (Jes. 53:6, NAV), dus was Hy die enigste “Middelaar tussen God en die mense, Christus Jesus,” (1 Tim 2:5, NAV).

‘n Middelaar versoen die verskille en behartig onderhandelings tussen twee partye. Jesus het op Golgota tussen God se woede en die straf vir ons sonde gestaan. Nadat Hy die lewe geleef het wat Hy geleef het en toe die straf verduur het waarvan ons nie kon ontsnap nie, het Hy gratis aan ons die versoening gegee wat ons nie kon bekostig nie.Nou is die vraag: Aangesien Hy ons so liefgehad het, kan ons nie mekaar ook liefhê nie? Aangesien ons vergewe is, kan ons nie ook vergewe nie. Aangesien ons feesgevier het aan ‘n tafel van genade, kan ons nie ‘n paar krummels afstaan nie?

Scroll to Top