
(1) Waar jy jouself vandag bevind is nie toevallig nie. Mordegai, Ester se mentor, het haar uitgedaag en haar lewe verander deur te sê, “Wie weet, of dit nie miskien juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het nie!” (Est 4:14 NLV). Ester wou nie doelbewus koningin word nie, maar toe sy eers die posisie beklee het, moes sy kies tussen haar gemak en haar roeping. Dit is ‘n keuse wat ons almal moet maak. “Wat is my roeping?” vra jy. Dit kan jou beroep, huwelik, ouerskap of vriendskappe wees. Een ding is seker: wanneer God roep, het ‘jou tyd’ aangebreek. Ons kies nie ons tyd nie: God doen dit! Die Psalmdigter het gesê, “My toekoms is in U hande” (Ps 31:15 NLV).
(2) God stuur spesiale mense om ons te lei. Sonder Mordegai sou Ester dalk nooit haar ware roeping verstaan het nie. En sonder sy hulp sou sy dit moontlik nooit aangegryp het nie. So, wie is jou Mordegai. Wie ken jou goed genoeg om jou te help om jou roeping te herken? Wie het jou lief genoeg om jou te konfronteer wanneer jy die pad byster raak, of jou te bemoedig wanneer jy wil opgee? Ons het almal ons swakhede. Dis waarom God ander mense na ons toe stuur – en waarom ons hulle nodig het!
© Randiokansel.co.za


