Die regte geselskap

Wanneer jy die wil van God volg, kan jy soms baie ongewild word. Ander kere kan dit jou in die moeilikheid laat beland veral by diegene wat daarvan hou dat ‘die lewe dieselfde bly.’ In Handelinge 3 is Petrus en Johannes deur God gebruik om ‘n man te genees wat sedert sy geboorte verlam was. Ons lees daar: “En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop en saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy rondloop en spring en God prys,” (Hand. 3:8). Op daardie dag het 5000 mense tot bekering gekom en die geestelike leiers was in beroering. Hulle het die dissipels gedreig en hulle beveel om nie Jesus se naam in hulle preke te noem nie. Gevolglik het die dissipels ‘n gebedsbyeenkoms gehou en gebid: “Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig,” (Hand. 4:29).

Skenk veral aandag aan vers 23: “Nadat hulle losgelaat is, het hulle na hul eie mense gegaan.” Waarheen? Terug na diegene wat “vervul is met die Heilige Gees” (sien Hand. 4:31), terug na diegene wat “een van hart en siel (was)” (sien Hand. 4:32), terug na diegene wat met soveel oorgawe die res van die wêreld vir Christus wou bereik dat hulle al hulle besittings verkoop het en dit belê het in God se werk (sien Hand. 4:32). Dit is die tipe geselskap waarin jy ook moet wees! Die Psalmdigter het geskryf: “God laat eensames in ‘n huisgesin woon,” (Ps. 68:7).

Behoort jy aan ‘n Geestelike gesin? Na wie toe gaan jy vir krag? Daar word dikwels gesê jou vriende beïnvloed jou dade, jou dade beïnvloed jou karakter en jou karakter beïnvloed jou toekoms. Vra dus vir God om jou na ‘die regte geselskap’ toe te lei.

Wanneer jy dit vind, sal jy wonder hoe jy ooit sonder hulle kon klaarkom!

Kopiereg 2007 Radiokansel. www.radiokansel.co.za

Scroll to Top