Die afgelope aantal jare het verskeie mense my in my spreekkamer kom sien met die seer van egskeiding of ‘n dreigende egskeiding. Dikwels was die krake in die huwelik van die begin af sigbaar, ander kere het dit alhoe slegter gegaan in die verhouding. Wat opvallend is, is dat die verhale van seer in huwelike nie geisoleerde stories is nie, maar die verhaal is van baie egpare.
Dit het my egter weer laat dink oor die redes vir die tendens.
- ‘n Rede kan moontlik wees dat ons nie behoorlik voorbereid is op die belangrike stap in ons lewe nie. Ons het soms die idée dat die huwelik ‘n besluit is wat op die ingewing van die oomblik geneem word.
- Ons trou in die verliefdheids fase. Ons is so verlief dat ons nie besef dat my maat anders is nie. Daarom hoor ek dikwels: “My maat het nou verander!” Die gevolg daarvan is dat ons met mekaar besig raak en mekaar wil verander.
- Ons trou met die idée dat die ander persoon ons gelukkig moet maak. Uiteindelik vergeet ons dat dit daaroor gaan dat ons saam kan groei.
- Sommige is van mening dat my prentjie van my ouers my grootliks beinvloed in my keuse. Ek soek dus iemand wat soos my ouers dink en doen en groot is die ontnugtering as dit nie so is nie.
- Mense sukkel met kommunikasie en konflikhantering. Onthou, as jy nie bewus is van jou styl nie, kies jy elke keer die bekende styl (al is dit ook destruktief) in jou verhoudings en hoe jy dinge hanteer.
- Huwelike kry swaar as ons nie dieselfde geestelike waardes het nie.
- In dit alles het ek ook besef dat huwelike wat slaag iets wys van genade en mense wat bereid is om te groei in hulleself.
Stephan van Heerden (Stephan is leraar by die Klipkerk Gemeente in Bloemfontein – www.klipkerk.co.za)