God vergewe en verkwik jou

fire1104

fire1104Johannes vertel, ‘Die slawe en die wagte het rondom ‘n vuur gestaan. Petrus het saam met hulle daar gestaan toe iemand vir hom sê: “Is jy nie tog ook een van sy dissipels nie?” Hy het dit heftig ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”‘ (Johannes 18:18, 25).

Vroeër daardie dag het Petrus Jesus probeer beskerm, nou het hy Hom verloën. Het dit jou al oorgekom? Jy swig onder druk; wat moet jy nou doen? Ignoreer dit: ‘Dis nie ernstig nie; almal maak foute.’ Ontken dit: ‘Gefaal? Jy speel seker? Nie ek nie!’ Verdraai dit: ‘Moenie my blameer nie; dit was hulle fout!’

Daar is egter ‘n ander keuse – om eerlik daaroor te wees. Tydens Frederik die Grote se besoek aan die Potsdam Gevangenis het al die gevangenes beweer hulle is onskuldig. Slegs een het gesê, ‘Ek is skuldig; ek verdien my straf.’ Toe die keiser dit hoor, het hy gesê, ‘Gou, laat die man vry voordat hy al die ander gevangenes ook verlei!’

Die Bybel sê, ‘Voor God kan absoluut niks weggesteek word nie. Ons staan kaalgestroop en weerloos voor die Een aan Wie ons verantwoording moet doen.’ (Hebreërs 4:13). Belydenis hou in dat jy nie alleen jou fout erken nie, maar ook dat dit verkeerd was.

Petrus was daardie nag by twee vure: die mensgemaakte een voor die kruisiging en die vuur wat deur die Meester na Sy opstanding gemaak is. Petrus het Jesus by die eerste vuur verloën, maar by die tweede Hom as Here bely.

Tussen die twee vure, het Petrus sy eie trane en Christus se kruisiging beleef. Jy word vergewe en vind nuwe vreugde wanneer jou trane en berou Christus se vergifnis ontmoet!

Bron : Radiokansel

Scroll to Top