Deur engele beskerm

04-11155




Untitled Document

04-11155‘n Sendeling moes elke twee weke na ‘n stad reis om mediese voorraad vir die veldhospitaal, waar hy werksaam was, te gaan koop. Tydens een van hierdie reise het hy twee mans sien baklei. Die een was ernstig beseer, en die sendeling het hom verpleeg en die Evangelie aan hom gebring. Hy is daarna terug na die sendingstasie, maar moes in die oerwoud oornag. Toe hy twee weke later in die stad terug is, het dieselfde man wat hy gehelp het, hom voorgekeer en gesê, ‘Ek het geweet dat jy geld en medisyne by jou gehad het, en ons bende was van plan om jou te vermoor en die geld en verdowingsmiddels te steel. Ons kon jou egter nie aanval nie, want daar was ses-en-twintig gewapende wagte om jou.’ ‘Onmoontlik’, het die sendeling geantwoord, ‘ek was alleen’. Die man het volgehou, ‘Maar my vriende het hulle ook gesien. Ons het hulle getel.’

Maande later, toe die sendeling hierdie verhaal in sy tuisgemeente vertel het, het iemand hom in die rede geval. ‘ Presies wanneer het dit gebeur?’ Toe die sendeling die datum noem, was die man verstom en het gesê, ‘Op daardie presiese nag in Afrika, toe dit oggend hiér was, het ek ‘n eienaardige drang gehad om vir jou te bid. Die drang was só sterk dat ek mense gekry het om by die kerk saam met my te bid.’ Toe almal wat saam gebid het, getel word, was dit ses-en-twintig – die presiese getal van die gewapende wagte. Dié waarheid staan vas: ‘Want Hy sal sy engele beveel om jou op al jou weë te beskerm.’

 Bron : Radiokansel


Scroll to Top