Hoeveel keer is jy al bemoedig met die pragtige en waar woorde van Romeine 8 vers 28? Ongelukkig laat mense baie keer die belangrikste gedeelte van die vers weg, naamlik: “Ons weet dat God alles…..”. Ja, God is aan die werk – daar agter die skerms waar geen mens kan sien nie is God aan die werk. Hy gebruik “alles” en “enige iets” en Hy maak werk daarvan en uiteindelik werk dit ten goede mee.
Dit is baie belangrik om daarop te let dat die “alles” enige iets kan wees – goed of sleg, lekker of onaangenaam. Sien, christene is ongelukkig ook in die wêreld al is God se kinders nie van die wêreld nie. Slegte en onaangename dinge gebeur ook met God se kinders. Om Jesus te ken vrywaar jou nie noodwendig van negatiewe dinge nie. Jesus is nie een of ander versekeringspolis teen swaarkry en opoffering nie. Die goeie nuus bly egter God is aan die werk agter die skerms en “whatever” gaan Hy laat ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet.
Een vers verder lees ons dat God wil hê dat ek en jy “gelykvormig moet wees aan die beeld van sy Seun”. Wat ‘n voorreg: God doen moeite met ons sodat ons meer en meer soos Jesus sal word. Gegewe jou persoonlikheid en jou gawes word jy deur God se werk “agter die skerms” getransformeer om al hoe meer na die beeld van Christus te lyk. Dit maal alles die moeite werd. God is besig met jou – doelgerig en sinvol en met ‘n definitiewe plan. Dinge gebeur nie maar per ongeluk nie.
Die heel beste is dat Hy, Jesus, jou broer is. Jy staan in ‘n splinternuwe verhouding met Jesus. Timothy Keller skryf dit so mooi:
You become wealthy, because everything that Jesus Christ has accomplished is transferred to you. You become beautiful and spiritually rich in Him.”
Johan Smith