Werk onder moeilike omstandighede (2)

working2803

Dawid het geweet dat hy deur God geroep is, nog voordat hy vir Saul begin werk het! Dit is belangrik! Jy moet weet wié jy is, buite jou werk, anders gaan jy harder na erkenning streef as wat jy aan jou werk gaan wérk. Dít stuur nie alleen die verkeerde sein aan jou toesighouer en kollegas nie, maar neem ook jou ware identiteit in Christus weg, asook die vaste basis van sekuriteit, vrede en genot wat jou werk aan jou kan bied. Jou eie waarde sal fluktueer: een dag miskien op en die volgende dag af.

Jou emosies sal wipplank ry tussen teleurstellings en goedkeuring. Die goedkeuring mag miskien nie eens opreg wees nie, want wanneer ander mense besef dat jy van húlle goedkeuring afhanklik is, kan hulle jou so maklik vir hulle éie doeleindes manipuleer.

Ander mense verkry beheer oor jou as jy gedurig na erkenning smag. Hulle het die mag om wat jy is, te omskryf, en jou te beïnvloed. Dis gevaarlik! Dis moeilik om na die stem van God te luister as jy net op jou toesighouer of die kliënt se stem ingestel is. Luister: ‘…wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God’ (1 Korintiërs 10:31 NLV). Wat jy ook al doen: of jy ‘n begroting opstel, of met ‘n besem vee, doen dit alles tot eer van God! Wanneer jy God se goedkeuring vir wat jy doen, ervaar, selfs wanneer dit iets is wat jy nie eintlik wíl doen nie, maar weet dit ís wat jy op ‘n gegewe tydstip móét doen, sal niemand anders se goedkeuring vir jou meer saak maak nie.

Bron : Radiokansel

Scroll to Top