
“We’re not allowed to eat or drink while we are on shift, my lady“, word daar vir my vertel, maar later kom die storie tussen hulle drie uit dat hulle wel iets mag drink, solank hulle net nie in ‘n winkel ingaan om dit te koop nie en dit mag nie inmeng met hulle werkery nie.
Almal vra vir Coke en hulle bied aan om twee blikkies tussen die drie van hulle te deel – ‘…dan werk dit darem goedkoper uit‘, sê hulle.
Ek koop drie blikkies Cokes en drie pakkies Lays chips in verskillende geure en pak die opdraend na hulle toe aan. Hulle gesigte helder op en die voorman sê: ‘Now friends, this is now really a lady that walks the extra mile.‘ (En ek voel stilweg trots dat ek een van die School of Life* lesse geslaag het, natgesweet of te not). Die blikkies word dadelik oopgemaak –
“The Coke side of life- Cheers!”
Terug by die realiteit van die dag is daar grafitti op ‘n baksteenmuur wat verwyder moet word en hulle moet ‘n kleur gemeng kry om in te pas by roesbruin, bruin, amper swart en wie weet wat se kleure nog. Die wit verf word in ‘n bakkie gegooi en die proses begin.
‘Add black…no, more…’
‘Red? ‘
‘You must be joking, it will turn to pink. Add brown…‘
‘Kyk hier, die bruin mix lyk soos tjoklitsous op roomys…kyk die mooi patroontjies…‘
André speel met die verf terwyl hy ‘n veraf uitdrukking in sy oë kry en die voorman begin rooi sien van ongeduld. Sien, André was vir 31 jaar ‘n sjef vir Southern Sun Hotels. Hy het daardie lewe verruil vir ‘n lewe in Zimbabwe saam met sy dokter-vrou. ‘Die lewe gaan aan’, sê hy ‘en een ding het ek in hierdie lewe geleer, niemand kan jou geloof, geleerdheid of ondervinding van jou wegneem nie.‘ Nou ruim die sjef / boer rommel en grafitti op en die enigste ding waarna hy uitsien is om ‘n voorman te word sodat hy sy eie plekkie kan bekostig, want die nagskuiling raak die afgelope tyd te nou vir hom .
Showella is ook van Zimbabwe. Hy was ‘n onderwyser vir die afgelope 12 jaar, maar kon dit net nie meer uithou in Zimbabwe nie. Daar is so baie onderwysers uit Zimbabwe hier by ons – hulle waiter in die Spur, slaan till in die kafee om die hoek, hulle pak rakke by Pick’nPay en verdien in die sweet van hulle aangesig hulle daaglikse R40 vir 4 ure se werk by Projek OPRUIM/Jesus Saves. Ons ontmoet hulle by Binnelandse Sake waar hulle soos diere veg vir ‘n plek in die ry om iewers papiere te kry om te kan werk. Hulle staan 03:00 op om eerste daar te wees net om te vind dat ander reeds voor hulle daar is. En so gaan dit maand na maand na maand. Dalk wil Showella saam met Tracy Chapman sing: ‘…and give mr President my honest regards, for disregarding me‘ in haar lied, Subcity. Showella werk hard, praat min en ek wonder waarna hy verlang.
Jean – die English gentleman en voorman en uitgesproke ateïs. Jean kan nie verstaan dat daar mense is wat vir hom lief is nie. Die christlike brotherly, sisterly love kan hy glad nie verstaan nie en hy wil ook nie. Elke aand gaan hy na sy kamertjie in Mowbray, rook sy zol en drink sy dop (of twee of drie) – want volgens Jean, is daar geen sin daarin om te drink as jy nie dronk word nie. Hy drink om te kan vergeet, om te kan onthou en bo alles om te kan slaap.
‘To be a Christian would really complicate my life. I would hate to be burdened with other people’s problems. I believe that if you are in trouble you sort out your own problems en vat jou pak soos ‘n man as dit na jou kant toe kom. I have never prayed in my life, it is impossible for me to believe that there is a God. When I’m dead, I’m dead, that’s that. All I need to survive is a bit of luck, a bit of promise and a bit of hope. Add more of the brown…more…more…no, no no, stop. I said STOP!‘
En so gaan hulle aan. Die voorman sê watter kleur bygevoeg mag word en die ander twee moet doen wat hy sê. Hulle verskil elke nou en dan van hom, maar hy hou voet by stuk – geen rooi nie. Selfs ek probeer die rooi aanmoedig. Later is André so moedeloos dat hy ‘n sample on the side maak en bewys dat rooi wel help. Dankie tog, uiteindelik kom ons iewers met die kleur. Die bakstene word geverf en mense kom verby en skree dat Jesus nie die grafitti sou verwyder het nie en dat ons meer dioxide moet byvoeg en dat die kleur ‘n terrible match is. André mors op sy skoene en op die sypaadjie en vinnig gryp hy die water om die sypaadjie en sy skoene te was. Dalk is dit hierdie oomblik wat my hierdie storie laat skryf het.
André, die groot man met die hartseer rondom hom. Die groot man wat daarna verlang om patroontjies met tjoklitsous op vanilla roomys te maak in die kombuise van Southern Sun se hotelle. Die groot man wat resepte met ons deel van bier hoender en coke hoender (nee, nie cocaine hoender nie) met ‘n bietjie spice. Die groot man met sy goeie maniere en soft spoken ways wat bakstene verf en die storie van sy lewe in drie minute vertel. Die groot man wat sy skoene en die sypaadjie was. Die groot man wat praat van geloof, geleerdheid en ondervinding. Of praat hy dalk van geloof, hoop en liefde?
#Projek OPRUIM / Jesus Saves onderskryf die woorde Jesus Saves en sien dit as ‘n getuienis in die gemeenskap. Projek OPRUIM / Jesus Saves is ‘n rehabilitasieproses waar haweloses broodnodige kontant in die hand kan verdien.
*School Of Life maak deel uit van die rehabilitasieproses van Projek OPRUIM / Jesus Saves Lesson 3: Matthews 5:41 …walk the extra mile…
www.straatwerk.org.za




