Vrygemaak om te lewe

170108

Die tekenprentjie hiernaas het my nogal aan die dink gesit. Ek was so ietwat onseker of ek dit moet plaas, want soos met skilpad, wat in die animasie prent, “The Hedge”, altyd sê hy kry so ‘n snaakse gevoel in sy stertjie as iets nie reg voel nie het dit my laat dink.

Ek het nou nie regtig dieselfde gevoel gekry nie, eerstens want ek is nie ‘n skilpad nie, tweedens; ek sal nie in ‘n skilpad dop pas nie, en met ‘n vorige maaggriep wat effe chaos in Bloem gesaai het, kry ek tans net ook nie gevoeltes nie, net dringende “seine”. Dis ongelukkig net nie lekker gespasieer nie, dis binne sekondes. So asof jy ‘n spoedkaartjie, dagvaardiging en die balju met een klop aan die deur ontvang. “Nou wat maak jy in so ‘n geval” vra iemand my nou die dag, toe hy hoor van my dilemma.

“Mater” sê ek vir hom. “Ken jy daai gevoel wanneer jy in ‘n motor wil wegtrek en die enjin wil vrek en hy ruk ruk met ‘n gehoes en geproes en almal se koppe skud ritmies saam so asof Pa, Ma en die kiddies begin RAVE?” Hy begin lag; “Nou, sit ‘n V8 in daai motor en gooi nog ‘n “back-fire” ook iewers in, dan weet jy hoe ek voel…”

Maar nou ja, daar gaan my verbeelding oor die gevoel van ‘n prentjie se reg of verkeerd.

Wat hierdie tekenprent eintlik so van toepassing maak is dat ons eintlik tog so baie dieselfde beginsel in ons alledaagse lewe kan deurtrek. En dit maak nie saak of jy ‘n “happy clappy” of ‘n “stoere boer” is nie. Die Woord kom en sê, Jesus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Dit voel soms vir my of ons dieselfde beginsel toepas as die man wat daarop aangedring het dat hy die baas is in die huis. Hy besluit wanneer hy onder die bed sal uitkom…

As Jesus ons vrygemaak het, dan lê die keuse by ons of ons dit vat en ons lewe daarvolgens inrig om as verlostes te leef. Daar is hordes voorbeelde, maar kom ek lig net een ding uit; lewe jy positief of negatief? Is jou gedagtegang daarop gefokus om positief of negatief te reageer in situasies?

Weet jy, ‘n mens draai dit ook nie sommer net om en word wakker daarmee een oggend nie. Jy moet jou denke en lewensuitkyke doelbewus aanspreek en onder die beheer van die Gees inbring, stuk vir stuk. Kort voor lank sal jy agterkom dat jy fyn ingestel is en dadelik agterkom as jy negatief begin dink. Negatiewe denke kring baie wyer uit as wat jy dink, dit raak die mense rondom jou en beinvloed jou eie lewensgehalte. Dis dan ook ‘n lekker trap wat die Satan gebruik om te steel…

Wees jy dan eerder vandag vir die mense rondom jou ‘n bron van positiwiteit en lewe in oorwinning.

Johann

Scroll to Top