Vrede volg op vergifnis

Image‘n Vrou was hoogs ontsteld omdat haar skoondogter vergeet het om haar na ‘n familie-piekniek toe te nooi. Toe haar seun haar dus op die oggend van die geleentheid bel om haar te nooi, het sy hom kwaad geantwoord: “Dis te laat – ek het klaar gebid vir reën!” Wanneer ons seergekry het, wil ons gewoonlik hê dat iemand anders moet boet en dan vaar ons dikwels uit teenoor die verkeerde mense. Een vrou skryf: “Ek was so kwaad dat ek vir jare lank probeer het om te kry wat ek gedink het my toekom, meestal van die mense af wat niks met my seer te doen gehad het nie. Uiteindelik het God my laat besef dat ek skuld by my man probeer invorder het wat hy my nie geskuld het nie. Toe ek dit aanvaar het, het God begin om my meer te seën as wat ek ooit kon verwag het.”
Een nag nadat sy oor vergifnis gepreek het, het Corrie Ten Boom die man herken wat na haar toe aangestap gekom het. Hy was ‘n voormalige wag van Ravensbruck, ‘n Nazi gevangeniskamp waar sy gemartel is en haar suster, Betsie, doodgegaan het. Toe hy haar vra om hom te vergewe, het Corrie aan Betsie gedink en gevoel dat sy dit net nie kon doen nie. Tog het sy geweet dat sy moes, anders sou alles waaroor sy gepreek het ‘n klug wees. Sy het gebid: “Here, ek kan my hand na hom toe uitsteek, ek kan ten minste dit doen, maar U sal die opregte gevoel by my moet wek.” Sy het die man se hand gevat en gevoel hoe God se krag deur haar vloei en haar in staat stel om opreg te sê: “Ek vergewe jou, my broer.” Corrie het nooit vantevore God se liefde so intens ervaar soos op daardie nag nie. Alhoewel sy verskriklik gemartel is, het sy God toegelaat om haar te genees en toe ook uitgegaan om ander te help.
Die feit is – vergifnis is die enigste pad na vrede toe!
© Radio Kansel 2008 (www.radiokansel.co.za)
Scroll to Top