
Vat jou probleem na die Here toe en vra Hom vir ‘n oplossing; Hy sal jou nie teleurstel nie. “…Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.” (Jakobus 5:16 NV). In die vierde plek leer jy die krag van geduld. As die Heilige Gees ‘n rigting vir jou aandui en ‘n doelwit of droom in jou hart sit, is dit maklik om te verwag dat dit oornag moet gebeur. Tydsberekening is van die uiterste belang – en dis onder God se beheer en nie joune nie! God se tydsberekening is noodsaaklik om die twee kenmerke wat jy nodig het – geloof en hoop – te ontwikkel. “Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.” (Romeine 8:25 NV).
Terwyl jy geduld leer, is God besig om die omstandighede vir jou voor te berei en ook die eienskappe van Christus in jou te kweek. Die Psalmskrywer het geskryf dat sy hoop in God gelê het. Waarin lê jou hoop? So lank as wat jou hoop in enige iets anders as God se getroue liefde en goedheid is, sal jy worstel met onsekerheid.
Bron : Radiokansel


