Stel Grense (2/4)

borderlines2503

borderlines2503As jy ‘n huis koop, het jy duidelik gemerkte grense nodig om te weet wat is joune en wat is nie. Duidelike grense sorg dat buurmanskap nie versuur nie. Die Bybel sê: “Wees spaarsaam met jou kuiers by jou buurman; as hy jou te veel sien, hou hy naderhand nie meer van jou nie.” (Spreuke 25:17 NV). Hoe naby is te naby presies? Ons kyk oor die volgende drie uitgawes na drie soorte grense tussen onsself en ander.

1) Vaste grense. Die doel hiermee is om ander mense uit jou persoonlike ruimte te hou en jou private, selfgeskepte wêreld te beskerm. Hoekom skep ons sulke grense? Ons is bang dat mense ons leer ken, beheer, seermaak, of minderwaardig laat voel. Ons strakheid veroorsaak dat ons nie intiem kan wees nie. Ons onwilligheid om kwesbaar te wees, isoleer ons en maak ons eensaam. Ons smag eintlik na nabyheid en intimiteit, en tog is ons bang daarvoor en ons vermy dit. Maar dit werk nie so nie. God het ons nie gemaak om in isolasie te lewe nie.

Ons moet “… respek hê vir mekaar en vir mekaar omgee. As een deel van die liggaam seerkry, voel die hele liggaam die pyn, en as een deel van die liggaam geprys word, voel die hele liggaam bly.” (1 Korintiërs 12:25-26 DB). Vaste grense beroof jou van lewensverrykende verhoudings.

Reik uit! Jy is gemaak om aan ander te gee, en om te ontvang wat hulle vir jou teruggee. Jy vind vervulling daarin om te gee, en dit voltooi jou om te ontvang. Enige iets minder beteken dat jy net bestaan.

Bron : Radiokansel

Scroll to Top