Spanpoging red sakeman

’n Bloemfonteinse man wat gedink het hy het die verkeerde roete gery, was eintlik op die regte pad om ’n bekende sakeman in die stad se lewe te red.


Mnr. Deon van Jaarsveld, ’n bemarker van mediese toerusting, sê hy het gister in spitsverkeer op ’n warboel by die verkeerslig op die hoek van Eerste Laan en Parkweg afgekom.


Hy was op pad na ’n afspraak in die stad en het ’n straat misgery.


Van Jaarsveld sê hy weet nie hoekom nie, maar hy het die verkeerde pad gery en iets het vir hom gesê om stil te hou en te kyk wat aangaan.


Volgens hom was insp. Jakkie Marx van die Bloemfonteinse honde-eenheid, ’n goeie vriend van hom, op die toneel en hy het besef daar is moeilikheid.


“Ek het ’n vrou by ’n man se kop sien sit en huil en besef die man is in die moeilikheid.”


Van Jaarsveld sê ’n ander vrou op die toneel het gesê sy het ook mediese kennis. Hulle het dadelik noodhulp toegepas. Hy sê hy het twee jaar gelede ’n basiese ambulanskursus voltooi en het nooit voorheen die kennis van die kursus gebruik nie.


“Daar het ’n totale kalmte oor my gespoel. Ek was die klei en die Liewe Vader was die pottebakker. Ék was nie in beheer nie.”


Van Jaarsveld sê alles van die kursus het so helder soos daglig by hom opgekom. Hulle het sowat 20 minute aangehou met die noodhulp tot die personeel van die ER24-nooddienste opgedaag het.


“Die paramedici was baie professioneel en het geweet wat hulle doen.”


Hy sê Marx het die ambulanspersoneel gehelp.


Mev. Amanda Appelgryn, hospitaalwoordvoerder, het gister by navraag bevestig dat mnr. Coert van Sandwyk (44) in ’n kritieke toestand in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal is.


Van Sandwyk en sy vrou, Christa, is die eienaars van die Sandy’s Shoebox-skoenwinkels in die stad. Die egpaar het vier kinders.


Van Jaarsveld sê hy was gister by die hospitaal om te kyk hoe dit met Van Sandwyk gaan.


Hy sê dit is eers toe dat dit tot hom deurgedring het dat hy ’n man se lewe help red het.


Mev. Van Sandwyk was te emosioneel om gisteraand te praat, maar het voorbidding vir haar man gevra.


LORAINE KALP – Volksblad.com (2008-02-19)

Scroll to Top