Pa se oë

Pa se oëAs jy in Derde Laan afry, sal heelwat huise jou oog vang, maar daar is veral een wat uitstaan.  Die klein huisie met die pragtige roostuin en die groot populierboom.  Dit is hier waar Theo, ‘n tiener, en sy pa gebly het.


Hulle het alleen daar gebly, want sy ma is jare gelede al oorlede.


Almal in die dorp het dié twee se verhouding bewonder en kon nie uitgepraat raak daaroor nie.  Theo se pa het nie een van sy rugbywedstryde misgeloop nie.  Of dit nou mooiweer of stormweer was, jy kon verseker weet, Theo se pa was daar.  Hy was immers sy seun se grootste bewonderaar.  Die ironie was dat Theo nooit in ‘n wedstryd gespeel het nie;  hy was altyd die reserwe. Ná elke wedstryd was sy pa se woorde:  “Miskien speel jy volgende keer.” Dan het sy pa altyd met sy arm om Theo se skouers daar weggestap.


Sonder enige druk van sy pa se kant, het Theo aangehou oefen en het hy altyd sy beste by elke oefening gegee.  Hy het egter deur sy hele hoërskoolloopbaan die reserwebank vol gesit, want – omdat die skool klein was – het hulle net een span in sy ouderdomsgroep gehad.  Maar sy pa het steeds getrou al die wedstryde bygewoon.


Dit was voor een van die laaste wedstryde in sy matriekjaar dat ‘n tragedie Theo tref.  Sy pa is skielik dood.  Dit was vir hom ‘n geweldige groot skok.


Hy het die afrigter gevra of hy nie dié week van die oefeninge verskoon kon word nie.  Die afrigter het vir hom gesê:


“Theo, neem soveel tyd as wat jy wil, want dis ‘n groot verlies wat jou getref het.”


Die Saterdag met die wedstryd daag Theo in sy rugbyklere by die wedstryd op.


Hy gaan staan voor die afrigter en pleit-vra:  “Meneer, kan ek asseblief vandag speel?”  Die afrigter het gevoel dat hy met so ‘n belangrike wedstryd nie kon bekostig om ‘n swak speler in te span nie.


Maar toe besluit hy tog om Theo te laat speel.  Hy het geredeneer:


Hoeveel jare lank oefen hy nou al getrou sonder om te speel en boonop is sy pa dood.  Ek sal hom ‘n kans gee.


Theo speel fantasties en druk selfs die wendrie.  Na die tyd stap die afrigter na Theo:


“Waar het jy al die tyd hierdie talent gebêre?  Jy was briljant.” 


Theo het met trane in sy oë gesê: “Meneer, my pa is in die hemel.  Meneer weet hy het getrou al die wedstryde bygewoon, al was hy blind.  Wel, vandag was die eerste keer dat hy my kon sien speel.  Ek wou vir hom wys … ek kán speel!”

Scroll to Top