
As jy een van die mense is wat nie daarmee tevrede is om op die kantlyn te bly sit nie – gaan doen dit dan! As jy ‘n passie vir ‘n saak het, sal die koste daaraan verbonde jou nie stop nie. Passievolle mense word getrek en gemotiveer deur die doelwit (sien 2 Kor. 5:14). Party dae sal jy trane in jou oë en grond onder jou naels hê. Jy sal ten spyte van die skrape en kneusplekke vreugde ervaar wat jou in die middel van die nag soos Paulus en Silas sal laat sing en jou ‘n roepingsbesef soos Jesaja sal laat uiter: “(Here), Hier is ek! Stuur my!” (Jesaja 6:8).
Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie. Party dae sal jy net-net kan staan! As jy nie een voet voor die ander kan plaas nie – staan! Besef dat daar nooit ‘n dag was wat vir ewig geduur het nie. Moenie moed opgee nie. Byt vas, proe jou trane en staan vas op dit wat God jou belowe het. En onthou, jy werk nie uit jou eie krag nie: “Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk.”


