
‘n Hoogtepunt van die film Lawrence of Arabia is ‘n rollende skoot van die galoppende Arabiere, hulle perde en kamele, met Lawrence aan die spits, wat by die nuttelose kanonne verbyjaag. Hoekom? Die kanonne het die verkeerde kant (die see) beskerm! Akaba is ingeneem, die Turkse mag oor Palestina is verbreek, deur ‘n Britse mandaat vervang, en uiteindelik het Israel die beheer van hulle land verkry.
Die Turke het misluk omdat hulle drie foute begaan het: hulle het nie hulle vyand geken nie; hulle het nie geweet wat hulle swakste punte was nie; hulle het nie die regte wapens gehad nie. ‘n Les is hierin opgesluit: 1) Ken jou vyand. Satan sal jou probeer oortuig dat hy eintlik nie bestaan nie en dat ‘jy’ die probleem is. Op dié manier beveg jy vlees met die krag van die vlees en sal jy elke keer verloor. 2) Ken jou swakhede. Wees eerlik. Verskans jou deeglik voor die geveg aanbreek. 3) Ken jou wapens. Gewapen met God se Woord, beskermende gebed en Christelike broederskap is jy meer as mans genoeg vir die vyand.
Bron : Radiokansel




