Voorbereiding

prepare2504

prepare2504Abraham se lewe leer jou etlike dinge.

Eerstens, jy kan met God wandel sonder om die besonderhede van jou lotsbestemming te ken: ‘…Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland.’ (Hebreërs 11:8).

Tweedens, die tydskaal vir God se beloftes is Sy saak. Abraham moes 20 jaar wag vir die geboorte van Isak en die vervulling van die belofte, ‘Ek sal jou die voorvader maak van ‘n groot nasie…’ (Genesis 12:2).

Derdens, jy sal soms misluk voordat jy sukses behaal. Abraham het moeg geword om te wag en Ismael verwek. Hy moes eerder geduldig gewag het, want Isak sou op die bestemde tyd gebore word. Ons maak dikwels die grootste foute omdat ons ongeduldig word.

Laastens, leer dit jou dat jy wel ten opsigte van een aspek kan glo, maar ten opsigte van ‘n ander vrees kan ervaar. Toe Abraham by Gerar aankom, het hy slegs aan sy eie behoud gedink en vertel dat ‘…sy vrou Sara sy suster is. Koning Abimelek van Gerar laat haar toe haal en neem haar op in sy paleis’ (Genesis 20:2). Ons het almal ‘Gerar oomblikke’, tye waartydens ons aan vrees, eiebelang of ander se eise toegee. Was dit nie vir die genade van God nie, sou ons almal gediskwalifiseer word!

Vervolgens lees ons, ‘Na ‘n tyd wou God Abraham se geloof en gehoorsaamheid toets. God sê vir hom: “Neem jou seun, vir Isak wat jy so liefhet, en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal wys.”‘ (Genesis 22:1-2). Let op die woorde, ‘Na ‘n tyd’. Al jou vorige toetse begin sin maak wanneer jy voor jou grootste toets te staan kom. Indien jy slaag, soos Abraham, sê, ‘Die Here voorsien’ (Genesis 22:14). God sal dan aan jou sê,’ Jy is nou op ‘n plek waar ek jou kan gebruik!’

Bron : Radiokansel

Scroll to Top