Karakter

Michael1009

Michael1009John Ruskin sê, ‘Die grootste beloning vir die mens se werk is nié wat hy daarvoor kry nie, maar wat hy daardeur word.’ Daar word vertel dat toe Michael Eisner, hoof van die Disney Korporasie, planne laat optrek het vir ‘n huis, was een muur so dun dat dit omtrent onder sy eie gewig meegegee het. In ‘n programmatuur-biljoenêr se huis is dennehout gebruik wat verrot het nog voordat die huis voltooi is. Was hierdie mense net te besig om die gebreke betyds te besef?

Argitekte is van mening dat mense konstruksie-besonderhede net te vervelig vind; hulle wil eerder hulle geld op uitspattighede uitgee. Dit is egter die fondasie wat die sterkte, stabiliteit, en uiteindelik die waarde van die huis bepaal. Spandeer jy al jou kragte aan die beeld wat jy voorhou, terwyl jy die fondasie (gesindheid, integriteit, jou Godgegewe doel) ignoreer? Jesus het gesê, ‘Al val daar ‘n stortbui, en al kom die vloedwater af, en al woed daar stormwinde teen die huis, sal dit nie inmekaarstort nie, want sy fondament is stewig op die rots vas.”‘ (Matteus 7:25 NLV). Huise wat op sand gebou is, word vinnig, goedkoop en maklik aanmekaar-geslaan; hulle verleen tydelike huisvesting en kitsgenot.

Om op rots te bou, is moeilik, neem lank en verg inspanning, insig en volharding; die resultate is egter die moeite werd. Jy sal gou uitvind watter tipe fondasie jou huis het wanneer die storms woed! Daar is ongelukkig geen kortpaaie nie – karakter (jou huis) is die resultaat van toewyding, beginselvastheid en bou volgens God se standaarde. Geen storm sal jou huis laat instort as dít jou fondasie is nie.

Bron Radiokansel

Scroll to Top