
Emosionele tonele het hulle hier afgespeel toe Lindie Strydom, bekend om haar rol as Karen in Egoli en bemarkingsbestuurder van Solidariteit se Helpende Hand, ‘n roerende boodskap van hoop vir die vroue gebring het. “Ek voel lomp om hier met julle te kom praat. Ek het nie ‘n idee waardeur julle gaan nie, maar ek kan vir julle ‘n geskenkpakkie van God bring – hoop.”
Sy het M. Scott Peck se boek The Road less Traveled aangehaal en gesê die lewe is moeilik. Eers wanneer ‘n mens dit verstaan en aanvaar, dan is die lewe nie meer moeilik nie, want sodra jy dit aanvaar, maak die feit dat die lewe moeilik is, nie meer saak nie.
“Ons moet die probleme in die lewe beskou as geleenthede om te leer. Die Here sal nooit vir ons probleme gee wat te groot vir ons is nie.”
Sy doen ‘n beroep op die vroue van Pamodzi om dié swaarkry as ‘n geleentheid aan te gryp om karakter te ontwikkel, hulself totaal oor te gee aan God, met God te versoen en met Sy hoop vorentoe te beweeg. “Onthou altyd die krag van ‘n biddende vrou is ongelooflik. Wees daar vir jul mans. Omsingel jou man met jou liefde.”
Volksblad




