
Weet jy? Jy kan ook net vir so lank dinge uitprobeer. Op een of ander stadium moet jy agterkom waarvoor God jou geroep het, sodat jy jouself ten volle daaraan kan wy. Paulus was blykbaar nie ‘n goeie spreker nie. “Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom.” (1 Korintiërs 2:3 NV). Maar wat hy kortgekom het as ‘n spreker het hy voor opgemaak as ‘n skrywer. Hy het die geïnspireerde woorde geskryf wat ander in staat gestel het om te preek. Sy woorde was so kragtig dat hy in die tronk papier wou hê, eerder as ‘n prokureur of lekker kos, sodat hy kon aanhou skryf. Paulus het sy lewe lank geskryf. Sy woorde beïnvloed mense se lewens tot vandag toe.
Dit was Paulus se roeping en hy het homself daaraan gewy. Het jou al jou roeping ontdek en jouself daaraan gewy? George Bernard Shaw het gesê: “Die lewe is nie vir my soos ‘n kers wat vlugtig brand nie, maar eerder soos ‘n wonderlike fakkel. Ek wil die fakkel, wat ek slegs vir ‘n oomblik kan vashou, so helder as moontlik laat brand, voordat ek dit vir toekomstige generasies aangee.”
Bron : Radiokansel


