God se goedkeuring

Article Story

Ons is geneig om van een ding na die volgende te hardloop. Ons word aangevuur deur ons drang om te presteer. Ons voel egter nooit tevrede nie. Ons staan ook nie lank genoeg stil om óns waarde in God se oë te waardeer nie. Blywende vervulling lê nie in die bereiking van nóg ‘n doelwit of nóg ‘n keerdatum nie. Paulus het die grootste gedeelte van die Nuwe Testament geskryf, vir wêreldleiers gepreek en die kerk uitgebou, maar sy versugting was om ‘…Christus persoonlik [te] ken…’ (v. 10 NLV). Die goedkeuring van mense kan jou nooit tevrede stel nie, slegs God kan. Jy gaan áltyd voel dat daar meer in die lewe moet wees as net die bereiking van nog ‘n doelwit. Ons uitdaging is om ons knaende verslaafdheid aan goedkeuring aan te spreek deur na God te gaan en die enigste goedkeuring wat óóit tevrede kan stel van Hóm te kry.

 

Paulus het om één rede hard gewerk: ‘Ons streef… daarna… om Hom tevrede te stel.’ (2 Korintiërs 5:9 NLV) Vra jouself af, ‘Hoekom doen ek wat ek doen? Vir wie doen ek dit?’ Jou antwoorde kan onthullend wees. Jy kan nie God se wil vir jou lewe doen sonder om ‘n persoonlike verhouding met Hom op te bou nie. Sonder vars geestelike vuur sal jy net uitbrand. Nog ‘n onderskeiding of trofee sal nie aan jou kan gee wat jy nodig het nie. Net God kan herstel wat al jou gejaag uitgeput het. In God se teenwoordigheid verloor menslike krone hulle glans en menslike eerbewyse word waardeloos. In God se teenwoordigheid kan jy álles laat vaar, sonder om enigiets te verloor.

Bron : Radiokansel

Scroll to Top