Gevoelens kan misleidend wees

Sample Image‘n Christen-skrywer het gesê: “Vir jare lank het ek volgens my gevoel geleef. Dit was soos ‘n rit op ‘n wipwaentjie in ‘n pretpark; die een dag het ek gelag en goed gevoel, die volgende dag het ek gehuil en myself bejammer. Ek het gevoel asof ek deur iemand anders beheer en gemartel word. Ek het emosionele volwassenheid nodig gehad, maar ek het God nodig gehad om dit te verkry. Dit is maklik om in die strik te trap en eerder jou wispelturige buie te glo as dit wat God in sy Woord sê. Maar sodra jy op God vertrou, sal jy ontdek dat jy die lewe meer kan geniet sodra jy volgens sy plan leef.”
Net soos jy nie enigiemand wat aan jou deur klop laat binnekom en hulself tuismaak nie, mag jy ook nie elke emosie toelaat om jou te beheer en te bepaal hoe jou dag gaan verloop of hoe jy gaan reageer nie. Die Bybel sê: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe,” (Spr. 4:23, NAV) en “Neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak,” (2 Kor. 10:5, NAV). As jou gedagtes nie in lyn met God se woord is nie, moenie dit dink nie. Paulus het gesê: “Ons lewe deur geloof, nie deur sien nie,” (2 Kor. 5:7, NAV), want (en dit gaan dalk kom as ‘n verrassing) jy gaan nie altyd God se teenwoordigheid voel nie. Na die kruisiging het twee dissipels afgestap met die Emmausweg toe Jesus hulle ingehaal het en langs hulle begin stap het. Maar hulle het Hom nie herken nie. Hulle het nie die leier herken vir wie hulle die afgelope drie jaar gevolg het nie, want “Hy (het) in ‘n ander gedaante verskyn,” (Mark. 16:12, OAV).
God is die God van geloof en Hy werk met ons op maniere wat geloof, nie gevoel nie, kan onderskei.

(c) Radiokansel 2008

Scroll to Top