Ek het nou al te vêr gekom om terug te draai!

RKEnige vlieënier sal vir jou kan vertel dat daar wanneer ‘n mens opstyg
‘n stadium is wat dit onmoontlik is om om te draai. Skielik is daar niks van
die aanloopbaan oor nie en dit is vlieg of sterf! In Hebreërs 11 is daar ‘n lys
van doodgewone mense wat ongelooflike goed gedoen het omdat hulle nooit hulle
doelwitte uit die oog verloor het nie. Hulle het selfs in die moeilikste tye
geweier om om te draai. “As hulle terug verlang het na daardie land
waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen
terug te gaan. Maar hulle het na ‘n beter vaderland … verlang.”

Wanneer jy besluit om God te begin volg, gaan almal rondom
jou nie noodwendig gelukkig wees nie. Jou visie kan dalk juis hulle nagmerrie wees. Jou
sukses kan
hulle voorspellings verkeerd bewys, of hulle herinner aan drome wat hulle nie
nagestreef het nie of laat vaar het. Dikwels is jou huis die eerste plek waar
jy teëstand ervaar. Josef het. Jesus ook. Dit is soms die prys wat jy moet
betaal. As ‘n mislukking nie moontlik is nie, gaan sukses ook nie veel beteken
nie. Toe Abraham besluit het om sy huis te verlaat en God te volg, het hy nie
‘n idee gehad waarheen sy reis hom sal neem of wat dit sal behels nie. Jy sal
ook nie.Wanneer God jou lei, begin dit gewoonlik deurdat Hy jou “uit die
nes uitskop,” (sien Deut. 32:11). Totdat jou ongelukkigheid groter as jou
vrees word, gaan jy nie beweeg nie! Moenie verwag dat God vir jou meer gaan gee
as jy te gemaksugtig raak nie – dan is jy nie gereed daarvoor nie. As jy begin
om te waag, gaan jy begin bid soos jy nog nooit in jou lewe gebid het nie en
aanhou grawe in God se Woord totdat jy die antwoorde kry. Want alles in jou
lewe hang daarvan af! Die punt is dat wanneer jy besluit “Dit is nie meer
moontlik om om te draai nie,” gaan jy begin sien hoe God se hand in jou
lewe werk!

© 2007 Radiokansel.
www.radiokansel.co.za

Scroll to Top