Die krag van aanmoediging (1)

FriendshipAlmal het aanmoediging nodig. Geen een van ons bereik dinge sonder hulp nie. Die grootste geskiedkundige prestasies is behaal deur die invloed van mense op mekaar se lewens. Ons is almal bekend met The Chronicles of Narnia en Lord of the Rings. Maar het jy geweet dat die onderskeie outeurs, CS Lewis en JRR Tolkien, albei professors by Oxford universiteit en goeie vriende was? Hulle het weekliks bymekaargekom, geëet en gesels oor hulle skryfavonture, en gedeeltes uit hul manuskripte aan mekaar voorgelees. Dit was Tolkien wat vir Lewis, ‘n geswore ateïs, aangemoedig het om Christenskap te ondersoek, wat uiteindelik gelei het tot sy bekering. En dit was Lewis wat Tolkien aangemoedig het om sy fiksie te laat publiseer. Was dit nie vir hulle vriendskap en wedersydse aanmoediging nie, sou die wêreld nie hul ongelooflike skryfwerk geken het nie.

Jonk of oud, suksesvol of minder suksesvol, bekend of onbekend – almal wat aanmoediging ontvang, word daardeur verander. Mark Twain het gesê: “Een kompliment kan my aan die gang hou vir ‘n hele maand.” ‘n Woord van aanmoediging deur ‘n onderwyser kan ‘n kind se lewe verander; ‘n woord van aanmoediging deur ‘n eggenoot kan ‘n huwelik verstewig of selfs red; ‘n woord van aanmoediging deur ‘n leier kan ‘n persoon aanspoor om sy doelwitte te bereik. Zig Ziglar sê: “Jy weet nooit wanneer ‘n paar opregte woorde ‘n lewe kan verander nie.” Die Bybel sê: “Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe” (Spreuke 16:24 NLV).

Bron: Radiokansel

Scroll to Top