
In sy boek Half Time: Changing Your Game Plan from Success to Significance, sê Bob Buford: ‘Die eerste deel van die lewe gaan oor verkry en wen, leer en verdien. Die tweede helfte is meer riskant, want dit het te make met lewe anderkant die onmiddellike.’ Daardeur bedoel hy om te lewe vir ‘n saak groter as jy en vir ander mense as jyself.
Die groot manne en vroue van die Bybel was nie groot omdat hulle iets verdien of besit het nie, maar omdat hulle aan ander mense en sake toegewyd was. Slegs ‘n klein aantal mense kan by hul droom bly om ‘n verskil te maak, en is bereid om alles op te offer om die droom tot uitvoer te bring. Van sulke mense word nooit na hul dood gesê, dit was asof hulle nooit gelewe het nie. Hul droom leef na hulle voort, want hulle het vir ander gelewe. En dit was deur vir ander te lewe dat hulle die groot vreugde en vervulling ervaar het.
Die digter skryf: ‘Ander, Here, ja ander; Laat dit my leuse wees. Help my om vir ander te lewe, dat ek vir U mag lewe.’
Bron : Radiokansel


