Deur engele beskerm (2)

angellight

angellightHier is ‘n belofte wat jy elke dag jou eie kan maak. “…sal geen kwaad jou tref, en geen ramp naby jou tent kom nie. Want Hy sal sy engele beveel om jou op al jou weë te beskerm.” (Ps 91:10-11 NLV) Maar die engele dien jou nie net nie, hulle is ook in verwondering oor jou. Luister: “Die Goeie Nuus is nou by julle aangekondig… Dit is so wonderlik dat selfs die engele dit alles fyn dophou.” (1 Pet 1:12 NLV) Die engele bewonder die geskenke wat God aan jou gegee het. Woon die Heilige Gees in engele? Nee, maar Hy woon in jou. Prys die engele God vir hul verlossing? Nee, hulle was nooit verlore nie, maar jy was. Het Christus ‘n engel geword? Nee, Hy het mens geword nes jy, en die engele was in verwondering. Engele was met Sy geboorte daar, het Sy dood aanskou en Sy opstanding aangekondig. Hulle waak ook oor die kerk se werk. “Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim.” (Ef 3:10 1983 Vertaling). God se engele is so betrokke by ons dat die Bybel sê: “Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit weet, selfs engele tuis ontvang.” (Heb 13:2 NLV)

Hoe wonderlik! God stuur sy persoonlike lyfwagte om jou te beskerm. Is dit net sentiment? Nee, dit is ‘n Bybelse waarheid! As Jesus Here van jou lewe is, dan waak die engele om jou!

Kopiereg 2009 Radiokansel

Scroll to Top