Die vrou stap in swart geklee op Paas-Vrydag tot skuins voor die preekstoel langs die nagmaal-tafel en neem dan die mikrofoon met besliste hande.
Daar’s iets berustends, maar ook ’n vonkeling, ’n ongelooflike opgewondenheid en blydskap, in haar oë te bespeur.
Haar stem is sag, bewend, amper onhoorbaar, wanneer sy beskroomd half na regs kyk en verduidelik dat dit maar nog élke keer vreesaanjaend is om so voor mense te praat.
Dan begin sy beslis en met meer vertroue uitvoerig praat oor haar jare lange gehoop, gewens en gebede vir haar kind se genesing.
Dan stop sy ewe skielik vir ’n ewigheid. (’n Ewigheid wat my nou nog hoendervleis gee.)
En tussen haar blydskap-trane wat die kerk vol vloei (tussen wýn en brood – genesing en Ewige rédding) en wat steeds nog teen my wange afrol, staan ’n brose moeder met bewende hande – en huil, en huil, en huil met haar hand oor haar mond die woorde nét-nét uit:
“My kind…my kind het ’n nier gekry…”
Louis Heunis (Kimberley)
(Bron : Volksblad)


