Op die TV-program Supersterre het die jong sanger en akteur Anthonie Bougas as 15-jarige seun baie Suid-Afrikaners se harte gesteel.
Bougas, van Kaapstad, is met artritis gebore. Toe hy 13 jaar oud was, het die siekte hom soms letterlik op sy knieë gedwing van die pyn.
“Ek het egter besluit om dit geheim te hou omdat ek nie wou hê mense moet van my hou omdat hulle simpatie met my het nie,” het hy gister uit Bloemfontein vertel.
Hy was daar om voorbrand te maak vir ‘n reeks optredes by skole.
Bougas vertolk ook ‘n rol in die kykNET-sepie Villa Rosa en sy CD’s is reeds in winkels beskikbaar.
“Ek het soms letterlik op die verhoog tydens die beoordeling van die Supersterre-reeks tande gekners van die pyn. Party dae kon ek nie uit my bed opstaan nie en my knieë was dikwels so groot soos rugbyballe geswel.
“My hele sangloopbaan was toe in die weegskaal. Ek kon geen bewegings op die verhoog uitvoer nie. Ek kon soms beswaarlik loop. Die artritis het só vererger dat ek my gereed moes maak om op 16 in ‘n rolstoel te wees.”
Die wonderwerk van sy genesing is merkwaardig.
“Ek het een aand verlede jaar in ‘n kerk opgetree. Ná my vertoning het die dominee gevra of daar iets is waarvoor hy vir my kan bid. Omdat ek my siekte tot dan toe geheim gehou het, het ek ‘n oomblik getwyfel, maar hom toe daarvan vertel. Hy het vir my gebid.
“Dieselfde aand, by ‘n ander kerk, het ek weer gesing en wéér het die dominee vir my gevra of hy spesiaal vir iets vir my kan bid. Ook hý het vir my gebid.
“Vier dae later het ek my gebruiklike afspraak by ‘n spesialis gehad en hy het die gewone bloedtoetse geneem. Die uitslae het hom, my en my ouers verstom – daar was geen spoor van artritis meer nie.