Aanvaar jou beperkings

lost2202

lost2202Is jou lewe oorlaai en oorweldig? Is jy soos iemand wat verdwaal is en nie wil stop om aanwysings te vra nie, maar eerder versnel totdat die motor sonder brandstof langs die pad gaan staan? Onthou hierdie belofte: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). God belowe egter nie dat jy enigiets kan doen wat jy wil nie, of alles wat mense van jou verwag nie, of alles wat ander doen nie. God sal ons net bystaan met dít wat Hý ons vra om te doen. Jesaja skryf: ‘Selfs jongmense raak uitgeput en afgemat. Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry…’ (Jesaja 40:30-31 NLV). Min dinge maak ons só nederig soos mislukking.

God sal ons toelaat om in kringe om die berg te loop, totdat ons gedwing word om te besef ons is verdwaal en ons aanwysings móét vra – veral as ons diep binne wéét dat ons nie is waar God wil hê ons moet wees nie. Parker Palmer skryf in Let Your Life Speak: ‘Ek is grootgemaak met ‘n kultuur dat ek enigiets kon doen; dat, gegewe genoeg energie en toewyding van my kant af, ek nie beperkings gehad het nie; dat God dinge op daardie manier gemaak het, dat ek net daarby moes inval. My probleme het begin toe ek my beperkings, in die gedaante van mislukkings, bereik het.’ Wat is jou seerste beperking? Die een wat jy nie wil erken nie? Die een wat jy vir almal wegsteek? Erken dit. Soek eerlike terugvoer. Vra God se hulp om die beperkings wat Hy vir jou eie beskerming daargestel het, te aanvaar.

Bron: Radiokansel

Scroll to Top