Ter wille van jou kinders

child170310

child170310Iemand het vir ons hierdie storie gestuur: “Op ‘n dag het ek en my man ‘n argument gehad en op mekaar geskree. Ek het op die stoep gaan sit met my gesig in my hande en begin huil. Ons tweejarige kind het die argument gehoor. ‘Ek is lief vir jou, Mamma’, het sy gesê, langs my kom sit en haar arms om my geslaan. ‘Ek is lief vir jou ook’, het ek geantwoord. Met haar kop op my skouer, het sy my vasgedruk, en gesê: ‘Ek wens net dat Mamma vir my Pappa ook lief kan wees.’ Dit was hartverskeurend. ‘Maar ek ís lief vir Pappa. Ons het net ‘n meningsverskil.’ My dogtertjie het geglimlag, opgestaan en weggeloop. ‘Waarheen gaan jy?’, het ek gevra. ‘Ek gaan vir Pappa sê jy is lief vir hom!'”

As jy jou kinders blootstel aan jou woede, maak seker dat hulle ook by is wanneer julle mekaar vergewe. Leer hulle hoe om ‘n saak aan te spreek sonder om die persoon aan te val. Leer hulle dat ‘n meningsverskil kan lei tot ‘n beter oplossing vir almal, en dat ons mekaar steeds respekteer en liefhet, selfs al verskil ons. Dit mag beteken dat jy vir hulle iets moet leer wat jy nooit geken het nie. As dit die geval is, leer uit jou ouers se foute en leer jou kinders reg. Vergewe wanneer jy seergemaak voel, en moenie kwaad gaan slaap nie. Jesus se opdrag was dat ons moet vergewe “…Dan sal julle Hemelse Vader ook julle oortredings vergewe” (Markus 11:25 NLV). Doen dit ter wille van jou kinders.

Bron : Radiokansel

Scroll to Top