Nog altyd geglo sendingwerk roep jou noodwendig so ver as Kazakstan? Dink weer: beroepsbediening beteken jou missie is ook by die werk…
Jesus kyk sy visserman-dissipels, sy gewone mens-volgelinge in die oë en verklaar: “Julle is die sout en lig van die aarde.”
Verskoon my as ek hier in my 21ste-eeuse kantoor omkyk en vra: “Wie? Ek?”
Maar die Bybel is ondubbelsinnig: Die almagtige Skepper van die hemel en die aarde het Sy handewerk oorgelaat aan mense van vlees en bloed. Aan gewone, alledaagse mense met kinders, ‘n nege-tot-vyf werk en rekeninge om te betaal. Aan mense soos ek en jy?
Hoewel daar steeds ‘n dringende behoefte aan “tradisionele sendingwerk” is, begin gelowiges nou wêreldwyd toenemend die geldigheid en belangrikheid van hul roeping (lees sendingveld!) op kantoor ontdek.
Dus: Ek is ‘n sendeling wat na my werkplek uitgestuur is om Jesus se lig daar helder te laat brand.
Wat beteken dit daar waar jý werk?
Iaan van Niekerk, ‘n sakeman van Pretoria, bied ‘n kursus aan waarin hy gelowiges vir beroepsbediening toerus.
Slegs in die laaste 18 maande het 300 mense, van wie die meeste eienaars van sakeondernemings is, dié kursus in saketransformasie deurloop.
“Ons is geroep om te leef as koninkrykswerkers, nie net as verloste Christene nie,” glo Iaan. Daarom is die grootste uitdaging vir Christene om hul roeping te verstaan.
Die eerste stap is om te besef dat God jou as ‘n priester in die werkplek roep. Dus, as iemand wat die belange van jou kollegas op die hart dra, vir hulle bid en hulle dien – net soos die priesters van ouds met die volk van Israel, verduidelik Peter Baumgardt, koördineerder van die Internasionale Transformasie Netwerk (ITN) in Suid-Afrika.
Vir baie mense begin die kopskuif om ‘n beroepsbedienaar te wees, juis by die erkenning dat hul werksituasie nie is soos God dit sou wou hê nie.
Dan neem hulle in gebed verantwoordelikheid vir die probleem, en vra die Here vir Sy oplossings.
Iaan vertel van ‘n man wat by ‘n motoraanleg in Pretoria werk. Nadat hy die Here voluit in sy werkplek begin dien het, het daar meteens vreemde, onverklaarbare foute in die produksielyn ingesluip.
Hy het saam met Christenvriende daaroor gebid, eerder as om hul eie oplossings uit te dink. Die foute is uiteindelik sonder enige logiese verduideliking uitgestryk.
Toe sy werkgewers vra wat die verskil gemaak het, was die deure wawyd-oop vir ‘n getuienis oor God se grootheid.
“Die grootste transformasie gebeur wanneer mense nie hul eie planne implementeer nie, maar wanneer hulle die Here vra wat Sý plan is sodat hulle daaraan gehoorsaam kan wees,” verduidelik Iaan.
Ek wil, maar ek weet nie hoe nie!
Willem Joubert is ‘n gesoute sakeman wat gelowiges met ‘n transformasie- model in die werkplek help toerus.
Hy noem dit L10T, of die Lukas 10 Transformasie. (Dis die Skrifgedeelte waar Jesus die 70 uitstuur om bedienaars van die Woord te word.) Die model is veral nuttig vir mense wat sukkel om hul geloof spontaan met ander te deel.
“L10T is werkplekbediening 101. As jy dít verstaan, kan jy as gewone mens begin om Jesus se Groot Opdrag uit te voer. Dis babatreë, maar dit leer mense om Jesus prakties te volg in die daaglikse lewe,” verduidelik Willem.
Daar is vier eenvoudige stappe:
Seën – Begin ‘n gebedsgroep en bid vir jou werkgewer, kollegas, werknemers en kliënte. Bid Bybel-beloftes en God se seën oor hul lewe. Spreek mense vry wat jou te na gekom het.
Vriendskap – Deel jou lewe met die mense rondom jou. Stel belang in hul alledaagse doen en late
Praktiese behoeftes – Hou jou ore gespits vir praktiese nood en vra of jy kan help, soos om te help kosmaak as iemand in die gesin siek is
Deel die evangelie – Genadedade het die manier om mense vrae te laat vra. Benut kanse wat voorkom, maar wees altyd sensitief vir die Heilige Gees se leiding.