PRETORIA. – “Dis regtig ’n beweging van die Gees van die Here.” Só gesels ds. Dirkie van der Spuy van die NG gemeente Moreletapark oor die geweldige belangstelling wat die Mighty Men’s Conference van mnr. Angus Buchan gaande gemaak het.
Van der Spuy sê daar word al lank gebid dat iets in Suid-Afrika moet gebeur. Dat soveel mans bymekaar kon kom en nou oor die Here praat, is volgens hom nie iets wat ’n mens kan laat gebeur nie. Hy meen Buchan het ’n gawe om op ’n eenvoudige manier uit sy boerehart met mans te praat. God gebruik hom.
Dr. Stephan Joubert, redakteur van die e-kerk, sê daar is ’n diep soeke na sin en betekenis by baie mense. By Buchan kry hulle ’n boodskap van hoop.
Oor sy boodskap skerts Joubert dat teoloë mense is wat maklike goed ingewikkeld kan maak. In ’n tyd van inligtingsoorlading bring Buchan egter ’n eenvoudige boodskap.
Hy sê kritiese buitestanders sal sosiologiese verklarings vir die groot opgewondenheid oor Buchan se boodskap soek.
Besorgde mense binne die kerk aanvaar egter dat God op vreemde maniere werk. ’n Mens hoef nie alles te verklaar nie.
Dr. Nelus Niemandt, dosent in sendingwetenskap aan die Universiteit van Pretoria, sê dis in die wese van godsdiens dat mense behoefte het aan ’n pelgrimstog. Dit bied ’n gevoel van eenheid, van gedeelde waardes en ’n groot geestelike belewenis.
As iemand gedink het die post-modernisme gaan mense minder godsdienstig maak, sien ’n mens hier die teendeel.
Hy dink verder dat mense se onsekerheid oor die land, die politiek en die ekonomie hulle laat soek na geestelike sekerhede.
Niemandt wys ook daarop dat ’n mens hier iets sien van die tendens dat kerkgrense al hoe minder belangrik raak.
Oor die gedagte van godsdienstige herlewing sê Niemandt die ervaring van lidmate wat op die Mighty Men’s Conference was, is
baie positief.
Hy sien by hulle iets van ’n hertoewyding. As dit die vroeë reën van nuwe geestelike toewyding in die land is, is hy baie bly.
Volksblad – Apr 24 2008