Om gefokus te wees

focussed0407

focussed0407Jy is slegs effektief wanneer jy selektief is. Dis bloot menslik dat jou aandag afgelei sal word. Ons spin in die rondte tussen aktiwiteite, sonder om vordering in enige rigting te maak. Sonder duidelike doelwitte sal jy aanhou om van rigting, beroep, verhouding en kerk te verander, in die hoop dat die verwarring en leemte in jou hart sal verdwyn. Jy dink: “Hierdie keer is anders”, maar dit los nooit die kern van die probleem op nie.

Die krag wat daarin opgesluit lê om te fokus, kan geillustreer word deur na lig te kyk. Met ‘n vergrootglas, kan sonstrale aangewend word om papier aan die brand te steek. Maar dit is moontlik om lig selfs meer te fokus in ‘n laserstraal, wat deur staal kan sny. Niks is kragtiger as ‘n gefokusde lewe nie. Die mans en vrouens wat die grootste impak op die samelewing het, is dié met die meeste fokus. Die dissipel Paulus het gesê: “.ek jaag wenpaal toe, na die Hemelse prys.” (Filippense 3:13 NLV). Paulus was doelgerig in sy strewe om Jesus te dien.

As jy ‘n lewe met impak begeer, fokus! Hou op om rond te ploeter en alles gelyk te probeer doen. Doen minder. Draai jou rug selfs op nuttige aktiwiteite, en doen net dít wat regtig saak maak. Die digter, William Matthews, het geskryf: “Een talent wat ontwikkel word in ‘n kragtige instrument, is meer werd as ‘n honderd ander vaardighede. Die grondbeginsel van sukses is konsentrasie – om ons energie te fokus op ‘n enkele taak en nie links of regs te kyk nie, maar fokus te behou.” Kom dit maklik of natuurlik? Nee, dit is ‘n dissipline wat jy elke dag moet oefen.

Bron: Radiokansel

Scroll to Top