Moenie sleg praat van iemand nie

vere1305

vere1305‘n Ou gesegde lui: Die diepste wonde word nie toegedien deur swaarde nie, maar deur woorde. Kyk maar net na die beseerdes om jou! Sukkel jy nie ook self om te herstel van die woorde van ‘n ongevoelige ouer, onderwyser, huweliksmaat of werkgewer nie? Of erger, ‘n Christen wat glo dat God se Woord oor die onderwerp van skinder nie op hulle betrekking het nie? God beskou ‘n geskinder (ja, dit is wel sonde!) in só ‘n ernstige lig dat Hy ‘n hele boek in die Bybel daaraan toewy. As ons Jakobus 3 meer gereeld sou lees, sou ons dalk twee keer dink voordat ons ons monde sou oopmaak om te skinder. Die Bybel sê: “So is die tong ook iets kleins, en tog kry dit groot dinge reg. ‘n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek” (Jakobus 3:5 NLV).

Op ‘n dag het ‘n vrou haar pastoor besoek omdat haar gewete haar gepla het. Sy het net mooi elke lidmaat in die kerk al beskinder. “Hoe kan ek dit regstel?”, wou sy weet. Die pastoor het geantwoord: “Vat ‘n klomp vere en sit een veer op die stoep van elke mens wat jy beskinder het.” Sy het so gemaak en toe teruggegaan na die pastoor toe, en gevra: “Is dit al?” “Nee”, het hy gesê, “gaan nou weer na almal toe en bring die vere vir my terug.” ‘n Week later het die vrou teruggekeer sonder ‘n enkele veer. “Die wind het hulle almal weggewaai”, het sy verduidelik. Na ‘n lang stilte het die pastoor gesê: “Net so is dit met woorde – maklik om hulle te uiter, maar onmoontlik om hulle terug te trek.” Skinder jy? Hou op!

Bron: Radiokansel

Scroll to Top