Lootsvisse (Pilot Fish)

pilot3107

Een aand is ek vasgevang deur ‘n klomp jong manne op TV wat passievol is oor visvang. Ek was nogal verbaas dat een van die manne, ek skat hom so 25 jaar oud, reeds ‘n professionele hengelaar is. Hoe hulle die verskillende visse en die verskillende aas en toestande kan uitken, kom darem maar net met ondervinding. Raak die gety net ‘n bietjie anders, (ek een jy sal dit waarskynlik nie agterkom nie) dan vertel hulle jou gou dat jy jou aas moet verander en sus en so.

Maar dit is nie wat ek met jou wil deel nie. Ek wil jou vertel wat ‘n indruk gemaak het en wat eintlik uit die see uit gekom het; ‘n 250kg haai wat deur een van die manne gevang is en na ‘n gespook van seker 2 uur uiteindelik in die vlak water was. Ek sal vir jou sê die kameraman het daai laatjie soos hy op die strand rondgehardloop het, van alle hoeke afgeneem oor hierdie periode.

Toe die haai uiteindelik deur hulle onder oë geneem word en daar opgewonde feite verskaf word neem niemand notisie van die lootsvissie wat homself vasgesuig het aan hierdie haai en ten spyte dat hy nou buite die water is steeds op sy plek is nie.

In 1888 het Herman die volgende oor hulle geskryf in sy boek, The Maldive Shark;

They have nothing of harm to dread,
But liquidly glide on his ghastly flank
Or before his Gorgonian head;
Or lurk in the port of serrated teeth
In white triple tiers of glittering gates,
And there find a haven when peril ‘s abroad,
An asylum in jaws of the Fates

Hulle het niks te vrees nie, maar hulle bly heeltyd aan die sy van die haai. Soms is hulle voor sy bek, soms naby sy tande, maar hulle is veilig in die haai se geselskap. En hulle is selfs bereid om die haai te volg al sou hy nie meer in die water wees nie!

Nou dink ‘n bietjie verder na die almag van God. Sy grootheid, Sy vermoëns. Is daar by God iets wat onmoontlik is? Nee!

Wanneer jy jouself bevind dat jy wonder of God jou sal help in ‘n situasie, dink aan hierdie lootsvissie en moet jouself nie verbeel dat jy aan God vasklou nie, weet dat God se nabyheid jou in werklikheid oorskadu, te midde van jou beproewing.

Johann

Scroll to Top